Translation: click the British flag bottom left of the screen
Dube Game Reserve is een van ons gunsteling oorde, 80km van die huis af, geen tolpaaie nie en ‘n gemaklike stop by Jasmyn Plaasprodukte in Hartbeespoort.

Worsies vir twee op ons nuwe Benna Braai.
(Video onderaan)
Sondag klok ons daar in, hou nie van staanplek 124 wat hulle ons gegee het nie, en na bietjie hulp van Tannie Koekie wat die kampplek grense kom uitwys, trek ons die karavaan in op 114.
Dis die naaste staanplek aan die swembaddens en kafee en binne opvang-afstand van die wi-fi. Ons sal sien hoe dit die naweek gaan wanneer die nawekers met kinders inkom en die lawaai toeneem.
Maar sukkel ons! Geen krag op geen prop op die hele kragboks nie. Naderhand kom help die buurman wat toe gelukkig ‘n elektrisiën is. Al wat ons uiteindelik regkry is om ‘n verlenging by die kampwinkel te koop en ons krag van ‘n leë staanplek verder-aan te kry. Toe is dit al 3 ure verder en moet ons vinnig die karavaan staanmaak en tente opslaan.
Intussen het hier twee groepe ingeboek en Dube is lekker vol karavane vol geselsende mense. Die warm swembad het deurentyd iemand wat in die warm water ronddryf soos ‘n king of a queen.
Van die swembad gepraat: Gert en Celia het heelwat opgraderings gedoen sedert Covid in 2020 die vakansieplek vir 3 maande stilgemaak het. Onlangs is nuwe teëls om die swembad gelê en die mure is ook kophoogte geteel. Daar is verfwerk en herstel aan die dak gedoen, en dis nou sommer ‘n grand swembad.

Nuwe teëls en bietjie opgradering en daar is dit weer ‘n gesellige, luukse swembad.

Maandag-middag sê ek vir vroutjie ek stap gou oor na die elektrisiën buurman want hy sit nou al die tweede middag op sy rekenaaar en sy vrou lyk ledig. Ek is gewoond om die enigste persoon te wees wat elke dag op sy rekenaar besig is.
Cas en Koeks du Plessis van Thabazimbi
So ontmoet ek vir Cas en Koeks du Plessis van Thabazimbi en maak die interessante ontdekking dat Cas ‘n gerekende poker speler is. Hy is elke middag op sy rekenaar met ‘n paar duisend ander aanlyn pokerspelers vanoor die wêreld. Hy wys my op die lys waar hy eerste op die ranglys is. Nie sommer ‘n vulletjie pokerspeler nie. Net jammer hy speel vir plesier en nie vir geld nie, anders kon ek ‘n paar Rande by hom belê het!

Maandag-aand luier ons in die 36° water van die binneshuise swembad toe twee vriende wat ons voorheen daar ontmoet het, instap.
Ons het ‘n hond uit ‘n bos gesels. Rodney Pinches is ‘n afgetrede elektriese ingenieur wat later ‘n suksesvolle eetplek by Hartbeespoortdam besit het, en Caroline (Du Preez) is ‘n Suid-Afrikaanse Country sangeres. Luister na haar op Deezer, Spotify en Youtube.
Ek hou nogal van Wyntyd in die Paarl. Hier is dit:
Woensdag-oggend is ek 08:00 in die warm swembad met 36° warm water, toe laat weet my neef Eugene uit Engeland dat hulle somer vakansie hou by die see, en die water temperatuur is 14°. Tel jou seëninge!
‘n Langstert Laksman kom maak geselsies met my uit die boom langs die tent.
Gistermiddag ‘n draai gemaak by Marietjie Erwee wat met die Kamp-Mal groep by Dube is. Ek het oor haar en haar man, Johan geskryf in my Januarie kamp-blog. Johan is ongelukkig intussen oorlede, maar Marietjie se kampvriende het gehelp dat sy aanhou kamp. Sy sleep self en hopelik kamp sy nog lank. Vanaand braai ons saam met die Kamp-Mal groep.


Woensdag vind ek toevallig uit die kampeerders maak hulle Porta Potty’s leeg in die plek wat bedoel is vir die skoonkrap van aangebrande potte en panne. Dit verneem ek toe tannie Koekie, wat soort van die kampkommandant is, haar ongelukkigheid met my deel.
Donderdag-oggend klim sy uiters verontwaardig uit haar bakkie wat langs ons kampplek geparkeer word en beduie vir my dat sake nou handuit ruk. Almal maak nou Porta Potty’s in die potte se wasplek leeg! “Daar is borde van die hek af orals wat wys die Porta Potty plek is daar bo by die ander ablusieblok. Nou maak die mense weer so!” kla sy.
Ek simpatiseer met haar probleem, maar in my enigheid twyfel ek of kampeerders ‘n ekstra 50 meter gaan loop om by ‘n Porta Potty drein uit te kom as die potte drein 20 meter weg is.
Vrydag-oggend is daar kennisgewings by die potte wasbakke wat sê jy mag net kook potte daar was. Duidelik mag jy dus nie meer piepiepotte daar was nie!
Het Dube Wi-fi?
Vanoggend met ‘n kliënt gesels. Dube se wi-fi is basies, dus is die spoed nie baie hoog nie, maar ons kon sonder onderbreking via WhatsApp gesels. Soos ek dit gemeet het is die radius van die wi-fi by die kantoor sowat 100 meter. Die verste grens is by staanplekke 168, 199, 103 en 108 (maar nie agter die ablusieblok nie want die dak is in die pad).
Daar is nog twee torings by die buite swembad en die boonste ablusieblok, maar dit lyk of hulle nie baie effektief is nie.
Selfoonopvangs is sporadies en jy sien dikwels mense wat heen en weer loop en hard vra: “Sannie, hoor jy vir pa?”. Die beste selopvangs is maar by die kantoor rond. Ons gebruik WhatsApp wat dikwels makliker werk omdat dit data is en nie stem soos MTN, Vodacom of die borge van die Sharks rugbyspan nie.
Dis Vrydag en die week se kampeerders haak karavane en gee teensinnig pad. Die naweek kampers begin inkom.

Vrydagaand week ons bietjie in die warm swembad.
Jy kan sien die naweek kampeerders is hier. Die warm swembad se skuifdeure word alle kant oop gelos, tieners vry in die swembad, en die manne pak vure wat lyk of hulle die bosveld se hout op een aand wil opgebruik.
Terselfdertyd is die kamp gevul met vrolike kinderstemme en wemel dit van kinders op fietse. Dis ‘n vrolike Vrydagaand!
Wat naweek kampeerders ookal doen, dit plaas geen las op ons nie. Baie lank terug het ek en vroutjie al besluit, die pret van kamp kan nie begin as die tente opgeslaan is en eindig as dit afgeslaan is nie. Kamp is ‘n hele ervaring wat begin vandat jy die kamp beplan totdat jy weer by die huis afgepak en alles gewas het.
Op dié manier is daar min wat ons ontstel want ons ervaar alles as deel van die kampervaring. Mense wat nie deure toemaak nie, kampers wat hul gazebo’s in die paadjie na die toilette vas-anker, kinders wat laat-aand fietsry en speel, en vroeg weer babbel, knieserige babas wat nie hou van die ontwrigting van kamp nie en families en vriende wat gesellig om die kampvuur kuier en lag.
Ek en vroutjie se gunsteling is om te sit en luister hoe jong ouers met hulle kinders lag en gesels en hoe hulle saam ervarings skep. Min dinge gee oupas en oumas soveel genot as die ervaring van ‘n ma wat swembad toe stap met haar dogtertjies en heelpad nuuskierige vrae antwoord, of pa’s wat fietse uitlaai en verstel sodat die seuns gou pêlle kan maak en die kamp vol jaag.
Kamp is ‘n heel ander kultuur-skepper as ander tydverdrywe.
Peet en Pat, kitaar en akkordion

Een vroegaand, kort nadat die rooi son agter die doringbome verdwyn het, dryf daar ‘n vriendelike trekklavier en kitaar melodie op die aandluggie na ons toe aan.
‘n Paar van ons volg die klank soos ‘n hond braaiwors opspoor. Ons snuffel net nie in die lug nie, ons volg ons ore.
Net om die hoek van ons af sit ‘n man en vrou in hulle tent. Hy met ‘n kitaar en sy met die trekklavier.
So kom ons toe af op Peet en Pat van den Heever van Alberton.
Peet was in sy jong dae ‘n baskitaarspeler in rock bands maar vandat hy “groot geword het” speel hy in boereorkeste. Pat, wat haar lewe lank in die bank gewerk het, het soos baie ander afgetredenes, na aftrede besluit om iets nuuts aan te leer. Die akkordion was haar keuse. Peet “leer” ook nou die gewone kitaar.
Nou oefen hulle saans in hulle tent terwyl hulle vir die vuur wag om kole te word, omdat hulle nie buite wil sit en die kamp-bure pla nie. Maar soos dit midweek kampers se gebruik is, sal hulle jou gou uitsnuffel as jy iets mooi doen – al oefen jy nog.
So het ander buurman Johan en vroutjie Sonja van Prins Albert vir Peet en Pat uit die tent tot langs die vuur opgekommandeer. En so luister ons elke aand kampmusiek. Dit maak nie saak dat iemand soms êrens vashaak nie, dis die gedagte wat tel. En daar is groot ondersteuning onder midweek kampeerders vir mense wat na aftrede ‘n nuwe vaardigheid wil aanleer.
Hier is drie video’s van Peet en Pat se bydrae tot ons ontspanne aande:
Hoe voel ons oor Dube?
Laggesiggies vir:
- Dis naby Gauteng vir ‘n naweekkamp (80km padlangs van my huis tot by die Dube hek) asook naby groot dele van Noordwes.
- Geriewe is oor die algemeen top klas en word deurentyd skoon gehou.
- Die eienaars opgradeer gereeld, so selfs die ou fasiliteite word goed in stand gehou.
- Personeel is goed opgelei, kundig, vriendelik en behulpsaam.
- Die oord-winkel is nie groot nie, maar het omtrent alles wat jy mag nodig kry.
- Eienaar, Gert Scheepers, is baie toeganklik. As jy hom nie naby die kantoor by ‘n tafel kry nie is sy selnommer orals op sodat jy hom kan skakel.
- Dube word deur die eienaars bestuur, so jy is nie afhanklik van ‘n bestuurder as jy oor iets wil gesels nie.
- Gert se vrou, Celia, doen baie moeite om organiseerders van groepe kampeerders in staat te stel om suksesvolle kampe aan te bied.
- Daar is ‘n groot plaas met oorgenoeg plek om te ry, te stap en fiets te ry terwyl jy wild kyk.
- Dube het ‘n groot saal wat baie geskik is vir groot onthale (wanneer ons dit weer mag doen)
- ‘n Gewilde putt-putt baan.
- Supertubes en water glyplanke vir die kinders.
- Baie groot warmwater swembad en twee buite swembaddens.
- Die kamp is weg van die provinsiale pad en word omring deur ‘n goeie kwaliteit elektriese heining en sekuriteitsligte, asook wagte deur die nag.
- Die Dube dam het vis vir vang-en-los (catch and release) hengel.
Huilgesiggies vir:
- Dube se kaart van die kampplekke is nie baie gebruikersvriendelik nie. (Min kamppleke se kaarte is).
- Kampplekke is soms moeilik om te identifiseer en die grense op te spoor. Tannie Koekie, wat in beheer is van die kampterrein, is gelukkig meestal byderhand om te help.
- Geriewe in die nuwe ablusieblok by die swembad sal nie in almal se smaak val nie. Die storte in die mans ablusie is nie so goed uitgelê soos die ou ablusie nie en die afwerking van o.a. die deure is nie van dieselfde gehalte as by die res van die oord se fasiliteite nie. (Jy kan dalk bietjie soek na die gaatjie waarin die skuifie moet ingaan om die deur te sluit). In die gesins-badkamers is hangplek effe skaars en die stortkoppe is hoog, so nie almal kan dit bykom om weg te draai van die stortdeur nie. (die lang ouens sal dit verwelkom)
My satelliet-kaart van Dube


Ons dink nog waar ons in Oktober gaan kamp
Desember het ons reeds ‘n week bespreek by Rust Oord Bushveld Camp
Ons is aktiewe afgetredenes. As jou klein besigheid ‘n goedkoop webblad benodig, jy ‘n webblad het wat aandag nodig het, of jy iemand benodig wat vir jou artikels soos hierdie kan skryf om jou webblad se sigbaarheid te verhoog, kan ons jou op ‘n paar maniere help:
Pingback: 'n Vinnige November enetjie by Dube - Centurion Living