You are currently viewing Kamp by Drakensberg en Tugela Mouth Resort

Kamp by Drakensberg en Tugela Mouth Resort

Remember: you can click the British flag on this page to read a translation.

Ons kamp by Tugela Mouth Resort
Ons kamp by Tugela Mouth Resort

Mense in hierdie artikel:

Willie en Ella Botha op Tugela Mond


Ons 2021 Tugela Mouth Resort kamp het weke voor die reis begin omdat ons niks gehad het om te doen anders as om vir die kamp voor te berei nie. Ses dae voor ons vertrek was al wat ons nog kon doen, om te sit en wonder hoekom ons nie vir ‘n week vroëer bespreek het nie.

Maandag is alles gepak en gereed. Ons vertrek Sondag. Volgende Sondag!

Die Plan

Vertrek Sondag-oggend 2 Mei en reis tot by Mountain Splendour Eco Resort waar ons een nag sal oorslaap (431km).
Vertrek Maandag-oggend na Tugela River Mouth Resort (310km).

Die reis

Alles het gelukkig goed verloop.

Baie karavane op die pad Natal toe teëgekom en klompie oppad terug Gauteng toe na die kort skoolvakansie aan die einde van April.

Ons enigste stop oppad na Mountain Splendour was by The Coffee Patch by Bergville. Hier sien jy beelde van meerkaaie en versteende boomstompe terwyl jy vars koffie en warm sjokolade drink, en oor die vallei en berge uitkyk.

Uitkyk by die versteende boomstompe van The Coffee Patch.
Versteende boomstompe en ‘n lekker oase by die Drakensberge, dis The Coffee Patch.

Daarna was laaste 68km tot my Mountain Splendour sommer kinderspeletjies.

Die Drakensberg se kleure

Nico Prinsloo

Die Drakensberg is oranje.
Die Drakensberg is blanje.
Die Drakensberg is blou.
Dis die plek vir my en jou.

Die kranse is vol plooie,
Op die kruin pronk drake skubbe,

In die vallei lê bonkig drake koppe,
en spikkels Drakensberger bees
.

Oranje hange, wit vlieswolke,
Blou uitspansel, groen vallei.
Drakensberg lê en wag
vir sy gaste,

ek en jy.


Mountain Splendour is een van die gevestigde (ouer) kampterreine, maar die ablusie is modern en die storte het genoeg ruimte sodat jy niks anders as jou lyf hoef nat te maak wanneer jy stort nie. Daar is gesins-badkamers met baddens vir mans wat bad, vroue, en kinders wat in troppe bad.

As jy ‘n stadsmeisie is, sal jy dalk nie hou van die reuk van varkmis nie. Dit is afkomstig van die boeppens varke wat los rondloop en akkers optel wat van die baie akkerbome (acorns) val.

Mountain Splendour het genoeg ruimte vir ooraktiewe kinders en baie geleenthede in die omgewing vir die avontuurlustiges en gholfspelers.

Tugela Mouth Resort

Maandag-oggend is ons vort oppad Tugelamond toe (310km).

Groot fout gemaak met die voorneme om op die pad te eet. Ek het die nare gewoonte om te glo die volgende eetplek sal beter wees. Die uiteinde daarvan was dat ek met ‘n leë maag by Tugela Mouth Resort opdaag. Alles goed en wel totdat ek die karavaan met die verkeerde deur aan die Weste kant in die kampplek intrek. Met die gesukkel om dit reg te draai val die jockey wiel halflyf in die sand vas.

Gelukkig sien Willie en Ella Botha van Heidelberg my gesukkel en kom help. Willie en sy twee broers kamp gelukkig toe almal langs mekaar skuins oorkant staanplek 27. Hulle woel die karavaan reg om, en is nog besig om die linker wiel op die gelykmaker oftewel “ramp” (wat nefie Jaco in sy fabriek uit hardehout vir my gesaag het) te stoot sodat die karavaan waterpas staan, toe ek voel hoe die krag en lus vir alles my verlaat. Binne ‘n sekonde ervaar ek alles van naar voel tot “ek moet nou lê” tot “ek dink ouma moet dalk ‘n dokter kry”. Ella roep vir water en ouma voer my ‘n liter bottel sommer vinnig-vinnig.

Willie en Ella Botha van Heidelberg
Willie en Ella Botha van Heidelberg het saam met Willie se broer ons karavaan uit die sand en in plek gestoot terwyl oupa homself bleek-bleek gesit en jammer kry het.

Teen die tyd dat ouma my ‘n broodjie met kaas en ham voer, het Willie en familie alles reg en is hulle al oppad terug na hulle eie karavane.

My Mei-maand nuwejaarsbelofte is om nooit weer op ‘n leë maag kamp op of af te slaan nie, en om altyd by die eerste eetplek langs die pad te stop. O, ja, en om eers te dink watter kant van die karavaan moet watter kant van die staanplek kom, voor ek in ry!

Tugela Mouth Resort is ‘n 40 jaar oue (hoofsaaklik) hengelaars oord.

Soos dit maar is by die KZN kus, kan jy sien die roes neem sy tol op alles wat staal is, en die houthutte vereis voortdurende onderhoud.

Die ablusieblokke is opgegradeer (moontlik na negatiewe reviews so 2 jaar gelede) en dis nou mooi skoon en bruikbaar met werknemers wat sorg dat die vloere skoon en droog en die toiletrol-houers vol bly. Moenie verwag dat ‘n werker regstaan om vloere te mop elke keer as die seuntjies die toilet gemis het nie, maar daar staan ‘n mop by die deur, so jy is nie hulpeloos nie.

Ons het ‘n lekker skaduryke kampplek gekry (27) en my enigste teleurstelling was die toestand van die braaiplekke. Na die terugslag van Covid19 wat die oorde vir byna ‘n jaar gesluit gehou het, sal dit sekerlik tyd neem om weer die kontantvloei aan die gang te kry sodat instandhouding kan voortgaan. Tydens ons kamp was die eienaars in die Kaap, maar ek verneem hulle oorweeg moontlik om die oord te verkoop. Ons hoop nie dit gebeur met die gevolg dat die kampterrein verdwyn nie, want dit sal eintlik glad nie goed wees vir ons tipe mense nie.

Iets wat wel vir sommige kampeerders ‘n bekommernis kan wees, is die feit dat die heining van Tugela Mouth Resort nie meer geëlektrifiseer is nie, en waarskynlik net die eerlike ouens uithou. Tesame daarmee is die kode vir die hoofhek en hek na die strand tydens ons verblyf nie verander nie, ten spyte daarvan dat daar baie gaste gekom en gegaan het. Een persoon (blykbaar ‘n lang-blyer) wat in een van die bungalows bly, is elke dag deur iemand wat die kode gehad het, op en af gelaai.
Ek verneem wel dat daar nie veiligheidsprobleme in en om die oord is nie. Daar is wel ‘n nagwag aan diens maar ek het hom nie Saterdag-nag gesien nie. Sondag-aand se wag het gesê hy dink die ou het seker bietjie die bottel gegooi.

Ons het lekker gekamp onder avokado- en mangobome. Dis goed om ‘n kettie saam te neem want die ape verstaan kettie-taal beter.

Die eerste Saterdag- en Sondagaand was daar ‘n groep mense wat aan slaaploosheid gely het, maar hulle was so ver van ons af dat dit nie teveel gepla het nie. Ek weet nie van die mense op staanplek 1 en daar naby nie, of die oom en tannie langs die bungalow op staanplek 14 nie. Saterdag-nag was daar wel een van die groep wat met sy kar met ‘n basstem uitlaatpyp die 40 meter tussen die lapa (waar hulle gekuier het) en hulle bungalow, heen-en-weer gery het. Ek weet nie of die mense bang was vir die nat grond na die donderbui wat vroeër geval het nie. Dalk het hy die mense aangery huis toe. Dit het hom twee ure se “revving” geneem, toe is almal nog in die lapa en niemand in die bed nie. Net voor 2-uur Sondagoggend het hy opgegee. Ek dink sy petrol voet het moeg geword.

Die oom en tannie op staanplek 14 word toe later kennisse Piet en Larein Rodgers van Ermelo. Dis baie vriendelike mense wat maklik ‘n geselsie aanknoop as jy verby hulle kampplek stap. Hulle kamp sommer drie maande en as oud-Natallers is hulle gereeld met die visstokke langs die see. Ek het mooi foto’s van hulle gekry toe hulle een oggend vroeg gaan lyn natmaak het. Sien dit hier. (bladsy maak oop in afsonderlike venster)

Tussen die oord en die strand is daar ‘n openbare parkeerplek. Mense kla dat dit ‘n raserige plek word oor Nuwejaar naweek. Terwyl ons daar was, was dit oor die naweek ook stil. Daar was wel ‘n groepie regeringswerkers wat die strande skoonhou, wat ‘n paar weeksdae daar omgesit het.

Sunrise of the Heart at Tugela Mouth ©
Sunrise of the Heart at Tugela Mouth © My gunsteling foto!

Mans ablusie

Mans ablusie by Tugela Mouth Resort

Familie ablusie

Familie ablusie by Tugela Mouth Resort

Waarvoor gee ons ‘n lag gesiggie

  • Bestuur is vriendelik en behulpsaam.
  • Jy kan kies tussen skadu en son staanplekke.
  • Wifi – 3 hot spots
  • Lekker groot storthokkies
  • Badkamers is vernuwe en ou gesins-badkamers is oud maar netjies en skoon.
  • Moenie stroppie raak oor die waterdruk nie. Dis boorgatwater, nie stadsraad water uit ‘n moewiese reservoir hoog op die berg nie.
  • Ons asblik en braaiplek is elke dag (naweke deur die bestuurder) skoongemaak.
  • Honde welkom.
  • Dis maklik om tot by die strand te stap.
  • Dis ‘n lekker stap-strand.
  • Lekker rustige en boomryke kamp in die week (naweke hang af van die mense wat inboek)
  • Billike tariewe vir afgetrede en lankstaan kampers.

Waarvoor gee ons ‘n huil gesiggie

  • Hulle vat nie krediet of debietkaarte nie, net cash en ketant.
  • Die elektriese heining is nie meer nie. En dit lyk of die hekkodes dalk bietjie los uitgegee en nie gereeld verander word nie. As sekuriteit jou nommer een oorweging is, is hierdie nie die plek vir jou nie, hoewel hier glo nie moeilikheid is nie.
  • Storthokkies het nie plek om jou sjampoe en seep te sit nie behalwe op die muur (en jy ken sommige ouens wat langs jou stort!)
  • Skuifslotte in die badkamers is so geroes dat sommige nie meer sluit nie.
  • Nie alle honde het ewe goeie maniere nie.
  • Sommige deure in die ablusieblokke maak moeilik oop omdat dit geswel het van die vog.
  • Tydens ons 2 weke kamp was die tuimeldroër en een van die twee wasmasjiene buite werking.
  • Daar is nie asblikkies in die mans toilet nie, so as jy jou tande vlos gaan jy die vislyn saamdra karavaan toe (hoop ons)

Die Rivier wat Skrikmaak

Nico Prinsloo

Gisteraand was daar ‘n donderstorm
langs die see by Tugela dorp.
Vanoggend was die branders bruin
en die strand vol plastiek skuim.

“Rivier wat skrikmaak” is Zoeloe vir Tugela.
As dit reën op Champagne Castle,
stoot Mooirivier se stormwater

oor in uThukela.

Dan kom tonne sand, en massas riet,
saam met bottel en met boomstomp,
op vuil bruin water golwe,
in uThukela af geskiet
!

Uit skrik vir die water se mag,
kyk die mense vol ontsag.
As die uThukela praat,
is die mens nie meer sy maat.


Die rivier wat skrik maak as hy brul,
vernietig soos ‘n wilde bul.
Die rivier wek vrees en wek ontsag,
by die mens wat langs hom wag.

Gisteraand was daar ‘n donderstorm
langs die see by Tugela dorp.
Vanoggend was die branders bruin
en die strand vol plastiek skuim.

Duine vol gebreekte glas.
Berge uitgespoelde riet.
Gladde stompe sonder bas.
Tugela se mond is skoon gewas.

24 se braaiplek was bietjie verinneweer toe ons op Tugela Mouth Resort gekamp het.
My braaiplek by nr 27 moes ek bietjie aanhelp met bakstene om my twee-mens roostertjie ‘n staanplek te kon gee

Op jou rekenaar, kliek op ‘n foto as jy dit groter wil sien en kom terug na die bladsy met jou browser se terug pyltjie (<).


Hier is nog Tugela Mouth Resort foto’s

Jou skaduwee kan nie verdrink nie. Ek en ouma se skaduwees swem in die laatmiddag son. @Tugela Mouth Resort

Ek het hierdie lastige mier ‘n suikerkorrel aangebied en dit het hom ‘n rukkie besig gehou. Maar hy het dit nie eens klaar gemaak nie! @Tugela Mouth Resort

Ons het lemoensap op die kamp tafel gemors, en hierdie mier het alles opgedrink. @Tugela Mouth Resort

Tugela Mouth Resort is ‘n plek waar ons weer sal wil kamp.

Intussen het ons die slegte nuus gekry dat twee inwoners van ons blyplek kompleks in Centurion, positief getoets het vir Covid 19.

Omdat ons nog lekker kuier by die see, besluit ons om liewer verder te kamp as om huiswaarts te keer. So is ons dan op pad vir (ten minste) nog ‘n week se kamp.

Ons volgende stop is Karridene Karavaanpark

Lees meer oor ons een jaar kamp op my kamp blog


webmaster
Author: webmaster

This Post Has 4 Comments

Comments are closed.