Haartjie in my Neus

Die dogtertjie-dokter

Toe ons aan die begin van die jaar in die stad ingetrek het, het ek vir die twee vroue in my lewe gesê hulle kan ons nuwe dokter kies.

Die jongvrou in die huis en Ma het saamgesweer. Hulle moes nog altyd deur mansdokters ondersoek word en dit is nie die jongvrou se idee van gelykheid nie.

So kry ons toe ‘n dogtertjie-dokter.

Nou die dag kry ek toe ook ‘n dokter nodig. Ek skakel vir ‘n afspraak en die ontvangsdame sê: “Jou vrou kom vanmiddag in vir ‘n EKG, jy kan sommer saam met haar vir dokter sien” So voel dit dan om ‘n tweedehandse burger te wees wat, soos die vryevroue-beweging altyd gekla het, gedefinieer word deur wie haar man is. Ek word nou gedefinieer deur die tyd van my vrou se dokters-afspraak.

Op die afgespreekte tyd sluip ek skoorvoetend in die spreekkamer in en meld met ‘n fluisterstem en wringende hande by die ontvangsdame aan. Die wagkamer sit vol vroue en ‘n man moet darem jou plek ken.

Die ontvangsdame wys met ‘n streng kopknik ek moet sit plek kry. Hier is mans duidelik burgers wie se status gedefinieer word deur die tyd van hul vroue se afsprake. Ek wag. Dit is hoekom hulle dit ‘n wagkamer noem. As jy nie moes wag nie was dit ‘n ingaan-kamer. Maar ek wag darem nie regtig so lank nie, toe kom roep die dokter my. Nie die ontvangsdame nie, die dokter persoonlik.

Sy luister na my storie en vra of ek die afgelope paar weke ‘n bosluis afgetrek het. Ek will vra, ‘n bosluis van wát afgetrek het? maar ek bly respekvol stil. Hier kry ‘n man antwoorde soos die Weermag altyd sê, op “a need to know basis”.

Sy laat my op ‘n harde bed sit en pomp die bloeddruk-ballonnetjie styf. Toe hy my bloeddruk wys sê sy niks, sy word net so bleek asof dit vir háár is wat die ballonnetjie so aan die binne-arm knyp. Sy pomp hom weer en toe die lug met ‘n sug uit die masjientjie blaas kom die kleur stadig terug in haar gesig.

Toe moet ek my mond oopmaak kyk sy sommer so met die oogmasjientjie sonder ‘n roomysstokkie. Hulle gebruik nie meer die roomysstokkies wat maak dat jy wil oeps as die dokter dit doer agter in jou keel vasdruk nie. “Sê aa!” Ek sê “haa”. “Sê weer aa”,sê sy, en om behulpsaam te wees sê ek “haaaal!”. Sy sê niks maar haar bene swik en sy hou aan die kant van die bed vas. Toe onthou ek, ek het vergeet om my tande te borsel.

Uiteindelik is alles afgehandel. Sy gee my pille vir slym op my regterlong. Toe ek die pille sien skrik ek groot. Dis sulke groot goeters wat lyk soos ander pille wat hulle vir die ou mans in die hospitaal gee as hulle hard raak. En waar daardie pille ingaan is nie die plek waar my longe sit nie, daarvan is ek seker Toe drink ek hulle maar en ek word gesond.

“Sy’s ‘n gawe mens, dié dokter”, sê my vrou by die huis. Ek skud my kop ywerig. Ek meen, ek is nie sommer ‘n hierjy mens nie. My dokter is immers ‘n dogtertjie.