Die geheim is om positief te bly

Ek lees van Oom Koos Steyn wat op 91-jarige ouderdom by ‘n gimnasium aangesluit het, en hy oefen elke oggend getrou. Dit het my ‘n heel nuwe perspektief op die lewe gegee.

My geslag – die stertkant van die ou Suid- Afrika – het vinnig geleer om positief te wees al het jy môre dalk nie ‘n werk nie, al was plastieksakke al die tyd sonde en al is gister se waarheid vandag se lieg. As jy noodgedwonge positief na alles moet begin kyk dan leer jy gou om moed te skep waar daar tradisioneel nie na moed gesoek is nie.

Neem nou ouderdom.

Almal kan jou sê dat hoë ouderdom baie gevare inhou en dat die lewe teen bejaardes diskrimineer. Mense voer jou taai kos, hulle praat al sagter, motoriste ry onverantwoordeliker hoe ouer jy word, en in uiterste gevalle gaan mense dood.

Maar ervaring bring wysheid en jare bring insig en selfs uit ‘n negatiewe saak soos oud-word is daar baie hoop te put.

Jy weet jy is oor veertig as jy twee mooi vroue in die straat sien en die een wat vir jou die mooiste is, is die ma. Dan, liewe jong manlike leser, het jy gearriveer. Van hier af wen jy Op vyf-en-veertig is vroue tot vyftig mooi, maar iy kan dit met ‘n paar biere rek tot 52 – as jy dit verder kan rek moet jy nie daarmee spog nie, jy is te dronk om ‘n betroubare mening te vorm.

En so stu jy voort tot waar die werklike voordeel hier by 70 intree, so lyk dit my. Van sewentig af is die meeste mooi vroue boonop nog jonger ook as jy. Om die waarheid te sê, die meeste minder-mooi vroue is ook jonger as jy. Eintlik is die meeste vroue in die algemeen jonger as jy – maar ons gaan nie nou negatief raak nie. Die punt is: hoe ouer jy word hoe meer mooi vroue is daar op die aarde. Ou Metusalem het glo oor die negehonderd jaar oud geword. Teen die einde was al die vroue seker vir hom mooi maar op negehonderd jaar het jy seker in elk geval ook geen smaakkliere meer nie.

Soos ek die saak uitgewerk het, gaan ek op 101 jaar werklik ongelooflik goed daaraan toe wees met minstens vyf miljoen mooi vroue tot my beskikking. Ek kan nie wag nie. Ek moet erken dat ek wel voorsiening sal moet maak vir enkele onbeplande gebeure. ‘n Jaloerse 105-jarige ou heks kan dalk my gehoorstuk wegsteek omdat sy my geen geluk gun nie, ek kan my tande in die fliek se badkamer vergeet of ‘n spelerige 90-jarige meisietjie kan my kierie onder my uitskop net om my onder te kry.

Maar ek is positief dat alles goed sal afloop Dit kan wel neuk as Vroutjie langer as ek leef. Want dan gaan al daardie miljoene meisies sonder my moet klaarkom.

Maar ‘n mens moet positief bly.