‘n MAAND nadat die vroue van Sirt, ‘n klein dorpie in die suide van Turkye, hul mans uit hul slaapkamers verban en seks geweier het totdat die mans sorg dat die dorp lopende water kry, het die departement van plattelandse sake ingestem om pype aan die mans te verskaf sodat hulle self die waterstelsel kan bou.
Die vroue van Sirt moes altyd by ‘n spruit toustaan om water te kry omdat die waterstelsel nie meer gewerk het nie. Uit radeloosheid, of nood, het die manne die regering gevra om die waterstelsel reg te maak, en as die regering dit nie kan of wil doen nie, om groot asseblief die pype te verskaf sodat hulle dit self kan regmaak. Die departement van plattelandse sake het seker hulle kans gesien.
Waar kry hulle weer sulke flukse werkers wat die pype in ‘n rekordtyd (lees: voor donker) gaan lê, dit behoorlik doen, en seker sal maak dat alles foutloos werk. Alles voor donker? Die vroue was seker regtig moedeloos om hulle tot sulke drastiese optrede te wend.
“Festus” of wat Turkse vroue hulle mans ookal noem, Festus, ” jy moet die pype regmaak, ek is nou moeg om agter die spul vroue van Sirt se waterskep-komitee in die ry te staan. En Festus sê: (terwyl hy die hasjisj deur sy waterpyp suie dat dit borrels maak soos ‘n vars Sprite) “Ja vrou, hou nou op kla. Jy weet hoe die regering is. Hulle stuur nie die pype nie, en die staatsamptenare is in elk geval so treurig, hulle gaan eers volgende jaar die goed kom installeer,”
Of so het Festus en die ander manne gedink terwyl hulle die hasjisj deur hul waterpype lê en suie en kyk hoe die skape sand vreet. Maar die vroue het ander planne gehad.
Toe Festus daardie aand agter Liefie se breë skouers gaan inkruip en sy arms vol verwagting, en met dieselfde plan as die afgelope dertig jaar, om haar ronde lyf sit, toe loop hy hom vas in ‘n stywe rug wat koue rillings van vrees teen sy ruggraat afstuur. (Dié vrees sal die ongetroude mans nie ken nie, en dit help ook nie dat n getroude man dit aan jou probeer verduidelik nie. As jy dit die dag self ervaar sal jy dadelik weet jy’t jou Moses teëgekom).
Maar terug na die mans van Sirt.
Die voIgende oggend het die manne sommer aan mekaar se dik bekke gesien dat almal dieselfde bloutjie geloop het. Ibrahim, die burgemeester, het vir die manne gesê: “Kêrels ek dink ons is in die sirt. As die pype nie gelê word nie, gaan ons nie water kry nie, en ‘n ander ding ook nie.”
Toe pleit hulle by die departement plattelandse sake en hulle kry hul pype en hulle installeer dit sommer sonder om eers die aanwysings te lees, maar hulle kry dit die eerste keer reg
En toe Festus daardie aand sy arm vol verwagting, en asof hy dit verdien, om Liefie se breë skouers sit, sê sy “Nie vanaand nie, ek het nou net gebad”