Dit was ‘n goeie winter

“HOU NOU op om jouself jammer te kry sê my gewoonlik simpatieke vroutjie, “Ek kry byself die jabber die, by deus is doe ed ek is siehiek,” kla ek.

Die winter is hier. Ek word nie sommer siek nie, nie in die winter nie en nie in die somer nie. Die Hoof Virus van die Centurion Verkoue-virusse besmettingsafdeling het my egter raak gesien.

Hy stuur toe een van die vakleerlinge, en dié duik uit die lug, waar hy saam met die ander virussies videos gekyk het, op my af, en neem my neus oor. Ek weet nie of hy net ‘n sissie is en of dit sy verwronge sin vir humor is nie, maar hy vat my nie soos die liefde jou vat, agter die kraag en aan jou broek se sitvlak nie. Nee, hy vat my so effentjies, net in die een neusgat.

Ek is nie so siek dat ek my familie begin groet nie, maar ook nie so gesond dat ek ‘n bont hemp wil aantrek nie. Om die waarheid te sê, ek en die virussie speel kat-en-muis met mekaar. Hy laat my hoes en sodra die blafmedisyne begin werk, laat hy my kop pyn. Die pynpille werk skaars, dan laat hy my regteroor toeslaan. Tussendeur laat hy my neus loop. Maar nie altwee gate gelyk nie, net een.

Ek laat hom lekker rondhardloop. As hy my linkerneusgat toemaak, gaan lê ek op my regtersy, dan moet hy om hardloop en die regterneusgat toemaak. Dan draai ek op die linkersy, en hy moet weer om hardloop om die linkerneusgat te blok. Ons kry altwee min slaap. My neus brand homself byna oop en my regteroor slaan oop-en-toe soos ‘n ou deur met ‘n stukkende slot. Deurentyd is ek gepla met ‘n p poeierige hoesie wat met lang, rooi naels uit my rou keel haar pad buite toe oopkrap. Humorsin trek sy ore plat en hol skoon onder Ongeduld uit.

Maandag is ek op kantoor. Maar o wee, daar het loop ek my trompop in ‘n klomp vrottes vas. Die een voel jammerder vir haarself as die ander. Dit kla oor heesheid en oor toe bors en een gaan sien summier die dokter oor sy geblokte sinusse. As jy by iemand verbyloop, snuif sy ekstra hard dat jy tog nie moet mis dat sy baie siek is nie. Sowat van trurat gebruik, het jy lanklaas gehoor.

Teen Maandagaand is my neus al so seer van al die afvee, ek wens ek het ‘n minder seer plek gehad om af te vee. Maar toe tref die virussie my met geniepsigheid. Ek dink hy wou my vinnig doodmaak sodat hy weer saam met sy pêlle kon gaan videos kyk.

My kop word al dikker en al seerder, my sinusse is nie toe nie, hulle is gekonstipeerd en die hoesie in my keel krap my rou met haar naels. “Drink dinges,” sê vroutjie. (Sy het mos by haar skoonma geleer om alles “dinges” te noem). Gelukkig weet ek wat sy bedoel en ek drink van die Bedi Dite. Maar dit maak die virussie net kwaad en hy kom sterker terug en laat my slegter voel as voor ek die dinges gedrink het.

So leer ons wat ons elke jaar leer maar nie wil glo nie: moenie die griep probeer keer nie, jy rek hom net uit. Los hom dat hy hom uitwoed en gaan dan aan met jou lewe.

Aan die einde van die winter het die dokters ‘n dankdiens gehou. Glo ‘n dankdiens vir die oes.

Hulle sê dit was ‘n goeie winter!