Ons leef in ‘n wêreld wat weet wat die temperatuur in die son se dikderm is en wat na jou DNA kyk om te sien watter siektes jy oor dertig jaar gaan kry — maar ons moet nog in ‘n ry staan as ons ‘n vorm wil ingee.
Die jongvrou in die huis moet haar bestuurstoets doen. Een oggend voor oopmaaktyd is ek daar om die vorms in te handig. Die vyf-en-dertigste siel in die ry. Ons ryg soos maalvleis deur ‘n worsderm in die gange in, deur die gebou, en anderkant uit – en daar staan ek in ‘n ry wat uit die gebou tot op die grasperk slinger. Jy word gestuur na die kantoor waar jy hoort, amper soos by die slagpale – beeste kamer 5, skape kamer 7 en die varke wag net hier in die gang. (Ek wag in die gang)
Veertig minute later is ek voor in die ry. Daar is twee klerke en ek kry die antie met die wit hare. Sy staan agter een van daardie koeëlvaste glasafskortings. Dit is mos eintlik die banke se bydrae tot die beleid van deursigtigheid: hulle sit so ‘n dik glasvenster tussern jou en die klerk dat julle vir mekaar moet skreeu. Op dié wyse weet almal binne vyf kilometer wat in jou lewe aangaan. Deursigtigheid op sy deurskynendste.
Die antie met die wit hare skreeu of sy kan help. Ek buig af oor die spoegbakkie wat onder die glas deurskuif en skreeu ek kom net ‘n afspraak reël vir my dogter. Nee, sê sy, die aansoeker moet self kom. Maar dan moet sy verlof neem by die werk om in die ry te kom staan, beduie ek. Sy vererg haar verskriklik. “Dit is seker nie nodig dat sy verlof neem daarvoor nie. Dit vat nie so lank nie.” Ek kan sweer sy is sarkasties.
Maar gister het sy drie ure in die ry moes staan sonder dat sy gehelp is en dit beteken sy moet verlof neem omdat sy ná tienuur eers by die werk terugkom, beduie ek so nederig moontlik. Ja, sê die tannie, maar hulle is baie besig hier waar sy werk. Ek stry nie daaroor nie, maar dit laat jou steeds drie ure in die ry staan. Sy vat nietemin die papiere en begin dit lees.
Die aansoeker moet self inkom, want sy het haar oogtoets op die dorp langsaan gedoen en nou moet sy dit hier weer doen, sê die antie. ‘n Mens sien blykbaar slegter hier in Centurion as op ander dorpe. Nee maar dis reg, gee ek oor en ek wil loop.
Maar sy het my vorms en dit lyk nie asof sy dit gaan teruggee nie. Sy lees die vorms en werk op die rekenaar. En ek stáán.
Na ‘n baie lang tyd kyk sy op asof sy my nou eers raaksien en skreeu: “Honderd-en- twintig rand!”
As dit dan is wat ek moet betaal om my vorms terug te kry, dan betaal ek – dis immers Afrika dié. Sy skryf in ‘n boek en sê: “24 April.” Ek stem saam want ek weet toevallig April het ‘n vier-en-twintigste dag – dit is tussen 23 en 25 April. Sy gee my vorms terug en kyk dwarsdeur my na die volgende ou in die ry.
Buite in die sonlig sien ek op die vorm my kind het op 24 April ‘n afspraak vir haar bestuurstoets. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.