
Biniki (lees versigtig, dit is nie ‘n bikini nie) is ‘n bra vir boude en as dit vir jou belaglik klink gaan kyk gerus op die internet by www.biniki-fashions.com
Volgens die uitvinder, ‘n sielkundige wat glo bekommerd was oor haar sakkende boude en toe vir hulle ‘n bra geprakseer het, bied die Biniki “doelmatige passing deur die gebruik van ‘n drie-ring stelsel van verstelbare lusse wat onder die boude steun verskaf”.
Die uitvinder noem dit (vry vertaal) “die grondbeginsel van agterent ondersteuning”. Sy verseker jou ook dat die Biniki saam met jou beweeg en dus in plek bly.
Ek is seker alle sielkundiges met sakkende boude is bly om dit te hoor want dit kan jou ‘n sielkundige knou gee as jou biniki besluit om nie saam met jou te beweeg nie. Om die waarheid te sê sal dit ‘n ramp wees as énige van jou klere besluit om nie saam met jou te beweeg nie. Die mense het selfs foto’s wat wys hoe die ding gepas word hoewel die ondersteunde boudjies altevol na die agterkant van ‘n outydse Volksie lyk.
Die manne wat nog vrou soek moet maar versigtig wees dat hulle nie deur die tegnologie in ‘n strik gevang word en met iets heel anders trou as wat hulle gedink het nie. Ek kan julle jong manne nie baie raad gee nie want ek het vrou gesoek in die tyd toe elke inwoner van die dorp nog sy eie melkkoei gehad het, en toe ons kinders se seer mae met ‘n warm katpens en vars beesmis reggedokter is.
In die tyd van vandag sou ek nie geweet het hoe om te soek nie want die meisies het kunswimpers, haarkleursel, naelpolitoer in dubbel die kleure van die reënboog, room wat hare afhaal, onderklere wat die liggaam vorm en nou ook die rewolusionêre Biniki.
Jy kan dink jy trou met ‘n slanke, blonde bom met lang, krullende ooghare wat nie haar naels byt nie, wie se vingernaels elkeen ‘n ander kleur is (jy dink dis omdat haar DNA gemanipuleer is), wat nie ‘n haartjie op haar bene of onder haar arms het nie, wat duike het waar ander meisies bulte het en wat haar agterstewe in ‘n bra dra. Op jou huweliksnag was sy dan al die goed in die bad af, en spring al die knippe en knope los. Dan sit jy onverwags opgeskeep met ‘n mollige rooikop wat haar wimpers uitgepluk het vir haar laaste stoeigeveg, wat haar naels tot onder die elmboog afgevreet het, wat die hare op haar kniee met ‘n haardroër droogblaas, wat haar oortollige velle binne-in haar onderklere in-gebid het en wie se boude op haar hakskene hang wanneer sy haar biniki afhaal.
Ons mans is werklik meer betroubaar as die vroue. ‘n Man sal homself mos nou nie inkleur, plastiseer, onthaar, skelm-skelm ‘n biniki aantrek en dan op die huweliksnag sonder waarskuwing uit alles uit bars nie.
Nee, ons gaan die huwelik eerlik-slank binne al begin ons om op die troue reeds stadig-stadig die bierkwota te verhoog en die oefening af te sterf. En langsaam – omdat ons nie wil hê die vrou moet skrik vang nie – raak ons minder mens en meer pens.
As jy dus wonder wat ‘n biniki is: dit is die grondbeginsel van agterent ondersteuning wat saam met vals naels, vals hare, vals wimpers, roesweermiddel en Polyfilla, deur vroue gebruik word om mans te vang.