Julie 2021 kamp by Dinokeng Resort

Danksy lock-down gedurende die derde Covid golf, kon ons net in Gauteng kamp. Gelukkig het die skole onverwags gesluit en kon ons die kleindogter saamvat. Dit gee altyd spesiale plesier.

Seun het vir die dag deurgery van Johannesburg af en help kamp opslaan. Lekker gekuier!

Ma, seun en kleindogter kuier nadat hulle kamp opgeslaan het

Dinokeng Resort is een van ons “naby-plekke” waarheen ons vinnig kan uitwyk omdat dit in Gauteng, slegs 80km van ons huis af is.

Die warm swembad, hoewel klein, is altyd welkom en die kamp is so uitgelê dat ‘n mens vinnig swembad toe kan stap.

Ons was van 4 – 9 Julie daar en die kamp was nogal vollerig. Heelwat oupas en oumas was daar met kleinkinders, en soos altyd was daar jong paartjies met voorskoolse kinders.

Dinokeng Resort het by die 50% okkupasie syfer gehou, maar selfs dit beteken dat elke twee staanplek iemand het wat kamp.

Die asblikke en braaiers is opgegradeer sedert ons die vorige keer daar was. Die nuwe braaiers het dinge vir my en die buurman bietjie bemoeilik. ‘n Halwe drom met ‘n vaste rooster beteken jy moet ‘n redelike potente vuur maak om hitte by die rooster te kry. As jy net klein hoeveelhede vleis en broodjies braai, gebruik jy dalk ‘n halwe sak houtskool of hout om ‘n paar worsies gaar te maak. Ons het ons knypbraaiers binne in die drom gesit en dit het gewerk. In my drom het die vorige kampeerders reeds bakstene gepak om hulle rooster laer te kon sit, so dit het ook gehelp.

Daar het min nuuswaardigs gebeur maar ons het lekker gekamp, geswem en gestap, ons kleindogter het vriende gemaak en die week se ontspan het ons almal goed gedoen.

Dinokeng het ‘n baie handige applikasie wat al die natuur en dierelewe in ‘n app het en waarmee jy jou heeltyd kan besig hou.
Laai dit hier af:
Android
iPhone

Ons volgende kamp is twee weke by Dube

webmaster
Author: webmaster

This Post Has 3 Comments

Comments are closed.