Ons vat koers na Karridene Caravan Park and Holiday Resort so 137km Suid van Tugela.



Mense in hierdie artikel:
Jacques Oosthuizen, Elise en ouma Betsie
Karradine Caravan Park is deel van die Protea Hotel, Karradine en ek kan verstaan hoekom die oud-Natallers op Tugela hulle koppe so snaaks gedraai het toe hulle hoor ons kom hier kamp.
Karridene is baie netjies en kry die aandag wat hotelle kry. Daar is meer bome rondom die park as in die park self, en ons is gewaarsku teen die wind.
Moenie die storie glo van agter die geboue skuil teen die Suid-Ooste wind of teen die Noord-Weste wind nie. Die wind waai jou uit enige gat waar jy skuil. En dit is glo nie eens die winderige seisoen nie!
En laat ek sommer gou iets van my bors af kry: die wi-fi werk net op seker plekke. Maandag het ek reeds gaan kla dat die ding nie eens die helse lang password vra wat hulle met die inteken by ontvangs vir ouma gegee het nie. Ontvangs sê dis nie ‘n probleem nie, ek moet sommer vir die sekuriteit vra as hy weer sy rondtes doen. Vra hom, maar hy reken ontvangs het ‘n varkie missing, want hy ken die wi-fi glad nie en het ook nie passwords nie. Maar, beduie hy, ek moet by die hek waar die groot security sit, gaan vra. Hulle weet alles wat hy nie weet nie.
Aikona, die groot security weet ook nie maar stel voor ek vra vir ontvangs. Terug na ontvangs wat reken dit kan dalk vanself regkom, ek moet net bietjie vasbyt.
Dinsdag oggend raak ek ongedurig met die meisie by ontvangs. Sy bel iemand wat verduidelik dis die sein wat swak is. Ek is op wi-fi maar net nie op die Internet nie. Dinsdag-middag toe probeer ek my laaste geduld op ontvangs uit. Sy roep ‘n manager of ‘n ding uit ‘n agter kantoor en hy beduie ons staanplek behoort behoorlike ontvangs te hê. Hy sal nou kom kyk wat aangaan. “Just wait at the camping site, I will be there in 10 minutes”. Gewoonlik vra ek “ten minutes literal or figurative” want “nou-nou, now-now, 5 minutes en 10 minutes” beteken in Suid-Afrika enigiets van nou-nou af tot more. So, in plaas van strand toe, stap ons terug kampplek toe. Ses dae later, toe ons ry, wag ons nog steeds dat hy kom. Intussen kon ons darem een selfoon kry om al stotterend op die wifi en Internet te gaan. Tot Donderdag was ons verblyf maar redelik onopwindend, behalwe vir die interessante Jacques en Elize Oosthuizen en ouma Betsie wat een aand op Karradine oorgeslaap het met hulle karavaan op wiele en ‘n beach buggy daarby aangehaak.
Jacques Oosthuizen, Elise en ouma Betsie
Jacques en Elise kom uit Witrivier se wêreld maar hulle het ‘n kampplek by Koingnaas met die naam van Blue Horizon Campsite. Met die tagtigjarige ouma Betsie ook in die karavaan het hulle op Port Nolloth Noord van Hondeklipbaai begin en teen die kus af, rondom Suid-Afrika gery.



Lewendige Ouma Bessie hou dagboek in haar swart lyntjiesboek van elke plek wat hulle besoek, inligting omtrent die plek en of daar baie, min of niks skulpies was nie. Sy tel so skulpies op dat Jacques al ‘n pak vol via Postnet huistoe moes stuur!
Daar is vir my ‘n stoel nadergetrek, en terwyl Elise tussendeur wasgoed was in die kamp se waskamer, vertel Ouma waar hulle was. Kyk net die lys van plekke waar hulle gebly het:
- Khoinaas Blue Horizon Campsite
- Leentjiesklip
- Melkbosstrand
- Foggy Frog
- Palmiet Karavaanpark
- Waenhuiskrans waar daar baie steekvlieë en skulpe was
- Jongensfontein
- Mosselbaai
- George
- Buffelsbaai
- Plettenbergbaai
- Stormsrivier
- Oesterbaai
- Big Fish Gamtoos
- Pearston Colchester Karavaanpark
- Port Edward
- Yellowsands
- Morganbaai
- Transkei
- Port St Johns
- TO Karavaanpark met die mooiste badkamers
- Ifafa
- Scottburgh
- Karrridene
Jacques ry by elke paadjie in om soveel moontlik te sien op hulle reis. Hulle bespreek nie vooruit nie en slaap waar die son sak, ongeag hoe ver hulle gery het. Hy probeer ook soveel moontlik mense ontmoet en knoop geselsies aan met almal wat hy teëkom.
Die volgende oggend is hulle vort, Noord teen die Natalse kus op.
Donderdag-aand besluit Natal dis tyd om ons bietjie om te roer, toe daar ‘n wind begin waai wat ons die helfte van die nag sou besig hou. Die weer app sê die wind waai teen 27km per uur, maar wat die appie nie sê nie is daai 27 voel soos 270 km!
Net na middernag jaag die eerste rukwind ons uit die karavaan.
Toe lyk die tent soos ‘n Kaapse meisie as die Sedoos waai. Alles flap en tot die emmer binne in die tent waai van die tafel af en beland op sy bas op die grond sonder om ‘n druppel water te stort. Na ‘n uur se vergeefse weerstand, zip ons die rallye tent af en bêre dit in die karavaan se tent. Maar dis nog nie die einde nie.
Terwyl die tannie oorkant ons se gazebo gevou word dat hy soos ‘n spinnekop lyk wat ge-Doom is, slaan ons penne in en anker stormbande. In die paniek-proses vind ons toe sommer baie dinge uit oor wat jy behoort te doen as jy in ‘n storm kamp. Uiteindelik bedaar die wind, haar woede en haar giere klaar op ons uitgehaal. Sy gaan stil verder asof daar terloops niks gebeur het nie en sy my glad nie uit die slaap gehou het nie.
Vrydag-oggend gooi die ape reeds vroeg asblikke om, maar die ou manne en vroue wat weet hoe om in ‘n storm te kamp, lê laat asof niks gebeur het nie. Totdat die son hulle uitbak.


Dis net toe wat ons besluit om, sodra ons tuis is, Maxcons penne aan te skaf.
Vrydag voel ons avontuurlustig en ons bespreek vanaf Sondag vir ‘n week by Rocky Bay Resorts. Ons vra sommer vir ‘n “sea-facing site”. Ons kry staanplek 32, reg teen die see waar jy oortuimel op die strand en rotse. Ons sal sien of ons nuut-verworwe kennis van kamp-in-storms ons enigsins gaan help.
Pingback: Kamp by Tugela Mouth Resort, Karridene en Rocky Bay - Centurion Living