Keerkant van die lewe

Hierdie artikel was geskryf ter ondersteuning van die Kinder- en Gesinsorg Vereniging op Polokwane en het in die Northern Review verskyn.

Hy sit in ‘n poel modder onder die boom in die agterplaas.

By sy huis se voordeur is nie ‘n bordjie wat sê “Weltevrede” of “Golden Cloud” of “Vatikaki” nie. Voor sy huis is nie ‘n bordjie nie want dit is Kinder- en Gesinsorg se Plek van Veiligheid.

Hy speel soos net ‘n seuntjie kan speel – sy hart uit. “Is dit lekker om in die modder te speel?” wil ek weet? “Ja” sê hy, “maar dit is lekkerder om te fliek”.

Hy is agt jaar oud en moes die afgelope skoolvakansie, toe ander kinders saam met hulle ouers na sportkampe, wildtuine en die see padgegee het, saam met sy sussies van agt maande, twee en drie jaar by die plek van veiligheid deurbring.

Op pad die huis in saam met Vena Strauss, die administratiewe beampte van Kinder- en Gesinsorg in Polokwane, kom die sussie van drie jaar – ‘n meisie met die mooiste ogies – in die gang af gewaggel. Sy is netjies versorg en duidelik baie gelukkig.

Sy hou haar handjie na Vena uit. Op die oop handjie rus ‘n klein, goue oorbelletjie. “Laat ek sien?” vra Vena maar sy wil nie. “Wa boetie?” en sonder om vir ‘n antwoord te wag gil sy “Boetiee, ky my oolelletjie!” Boetie is buite, beduie Vena, en die klein patroon is woerts by die kombuisdeur uit oppad buite toe om vir haar boetie in die modderpoel haar vonds te gaan wys. Boetie is die middelpunt van die sussies se lewe.

Die sussie van twee jaar het reeds, toe ons nog in die kombuis gegroet het, met uitgestrekte armpies na Vena aangedraf gekom. Nou sit sy stewig op haar arm asof sy alleenreg daarop het. As ek haar groet steek sy skaam die sproetgesiggie in die tannie se nek weg. Die baba word in die babakamer deur Vena se dogter, Venamarie, ‘n leerling aan Oosskool, vermaak.

Aan die einde van die vakansie het Vena besluit om die seuntjie alleen uit te neem sonder dat hy die aandag met sy sussies moet deel, en omdat sy aandag deur die vakansie grootliks deur sy sussies in beslag geneem was.

Toe die bestuurder van Ster-Kinekor, Henk Besteman, van die uitstappie hoor, het hy ‘n gratis kaartjie aan die seuntjie beskikbaar gestel.

Na die fliek het die seuntjie en Vena ‘n draai by die hamburger-plek gemaak en daarna is hulle terug huis toe – na die plek van veiligheid. Dit is waar ek hom raakloop.

Kinder- en Gesinsorg het tans twaalf kinders en drie vroue, wat slagoffers van gesinsgeweld is, waarna hulle omsien.

Wanneer ek verby die seuntjie stap oppad uit, kyk hy skaars op as hy my groet met sy helder stemmetjie beantwoord.

Dit sal van die mense van hierdie stad – waarheen die swart teerpad hom en sy sussies gebring het – afhang of hulle weer hier sal uitgaan soos hulle gekom het – te voet langs die snelweg met pa se duim in die lug, bedelend vir ‘n lift.

As dit van die mense van Kinder- en Gesinsorg afhang, sal dit nie op so ‘n manier gebeur nie.

Speel in die modder is lekker, maar fliek is lekkerder.

Aan die begin van die semester is daar weer ‘n lang lys items wat Kinder- en Gesinsorg benodig, maar die belangrikste is groente, vrugte en vleis.

As jy te veel daarvan het, gee dit asb af by Bokstraat 75A of skakel Vena Strauss by 082 414 8313.

Of as jy ‘n paar oorskiet weggooidoeke het wat jou baba uitgegroei het, by die Plek van Veiligheid is ‘n agtjarige staatmakertjie. Sy babasussie het dit nodig.