
‘n Vrou is ‘n rare wese.
As sy moet kies tussen ‘n kind van die dood red of n drie druk, dan sal sy die kind red al het sy ‘n oop doellyn voor haar. Vroutjie is ook so.
Maar Vroutjie het by dit ook n manier om na my te luister sonder dat ek agterkom sy luister nie. Sy gebruik dié vermoë veral as ek opgewonde raak oor ‘n saak – die kinders noem dit “op n mission wees” – en sy nie werklik belangstel of ek die wêreld red of myself natmaak nie.
Een aand vra sy: “wil jy n glasie sjerrie saam met my drink?”. Nou kyk, ek doen graag dinge saam met vroutjie. Party is lekker dinge en party is vreeslike lekker dinge. Maar sjerrie is nie een daarvan nie want sjerrie is soet en soet gee sooibrand. “Ag toe, drink ‘n glasie saam met my dan kry jy ook n bietjie kultuur”, neul sy.
“Kultuur?” snork ek. “Watse kultuur?” Ek staan daar met my kaal voete, my uithang hemp, pens wat soos n vraagteken oor my gunsteling kort broek se slap rek hang en ek klim kaalvuis onder kultuur in. “Droe rooi wyn mag volgens julle die hoogste kultuur wees, maar vir my is dit plain sleg en in elk geval gee dit my sooibrand. Brandewyn en Coke mag kultuur wees maar is die mengsel bedoel om brandewyn beter te laat smaak of Coke slegter? Whisky en soda is ‘n kortkop erger. Jy kan soveel soda gooi as wat jy wil, maar die bilharzia-smaak sal jy nie doodgemaak kry nie. Maar die manne drink dit en ril in stilte, want dit is kultuur. En musiek! Die goed wat hulle as Afrikaanse musiek oor die radio speel en vertel dit is kultuur! Soos die oorlede sanger wat julle sê so mooi gesing het maar wie se grootste nalatenskap was dat hy bewys het ‘n ou met kroniese sinus kan ‘n miljoenér word.
Taal is kultuur maar ek hoor woorde soos Deurebeskermingsvereniging. As deure beskerming nodig het behoort vensters op dieselfde voorreg aanspraak te kan maak. En wat van Rudolph Straueli wat na die Springbokke se nederlaag teen die Franse gesé het die mees belangrikste van alles is dat hulle nou moet konsolideer. Belangrikste is die oortreffende trap, maar nou is dit skielik ons kultuur om iets in die mees oortreffendste trap te sê. President Bossies van Amerika (die antieke ene) het gesê hy is die president van Amerika, hy hoef nie broccoli te eet as hy nie daarvan hou nie.
Wel ek is nie die president van Amerika nie maar ek is mooi groot en ek hoef niks te eet of te drink of te sing as ek nie daarvan hou nie. Ek eet broccoli en dit is kultuur genoeg vir my. Ek gaan verseker nie sjerrie drink net omdat dit kultuur is nie”, eindig ek tevrede, my punt gemaak.
Vroutjie kyk my aan asof sy my nou eers sien en vra rustig: “nou wil jy n glasie sjerrie saam met my drink?” Ek probeer dramaties wees soos hulle in die flieks maak: ek laat val my kop vorentoe met my ken op my bors, maar die dramatiese oomblik gaan verlore toe ek n spier agter in my nek verrek.
Toe drink vroutjie alleen ‘n glasie soet kultuur terwyl ek met ‘n warmwatersak kamer toe sluip om myself te gaan jammer kry.