ROOIWYNDRINKERS is gesonder, intelligenter, beter opgelei en meer suksesvol as die drinkers van bier of sterk drank, sê Deense navorsers.
Hulle het met 363 Deense mans en 330 vroue tussen die ouderdomme van 29 en 34 gepraat en die navorsing het volgens hulle bewys dat die voorkeur vir rooiwyn gekoppel is aan ‘n “optimale gemeenskaps-, intellektuele en persoonlike omgewing”.
Dit verklaar hoekom die Dene so ‘n onverstaanbare taal praat. Jy moet heelwat wynkultuur hê om te kan sê: Glædelig jul og godt nytår. Ek sal dit liewer nie probeer uitspreek nie maar dit beteken glo Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwejaar. Wat die navorsers natuurlik nie uit hul navorsing agtergekom het nie, maar wat ek hulle nou sê, is dat die navorsing ook bewys dat daar minstens 693 mense tussen 29 en 34 jaar oud in Denemarke woon.
Maar bierdrinkers hoef nie minderwaardig te voel nie. Hulle het ook ‘n optimale gemeenskaps-, intellektuele en persoonlike omgewing – sê ek, nie die Deense navorsers nie – daar waar die mannetjie bokant die deur so vinnig stap om te wys waar jy jou Lager kan uitfluit.
Gewoonlik is die mannetjie egter so belas met pluiskeil, swaelstertpak en wandelstaf dat jy wonder hoe hy dit gaan reg kry om sy zippie oop te maak. Alle mans was al in dié optimale omgewing en sal jou kan sê dat daar min plekke is waar soveel gemeenskaplikheid heers. Almal is daar om dieselfde ding te doen, wat veroorsaak is deur dieselfde ding te drink. Dit skep n gevoel van kameraderie wat jy nie by teedrinkers kry nie.
Jy het ook jou eie persoonlike omgewing waar niemand kan indring nie – twee perde kan nie by dieselfde krip vreet nie. En die intellektuele vlak is ongeewenaard. “Watch jy Big Brother?” (ziiip “Nee, my vrou watch dit, dan sien ek ok maar.” (ziiip “Daai een ou is lekker windgat, ek dink daai ander girl gaan hom nog donner (uhmmm). Ek watch dit elke aand op satellite. Ek laaik nie die vroumens met die groot bek nie, as dit my vrou was het ek haar ge*%* (uhmmmm).” Intellektuele gesprek afgehandel.
Ek is seker 363 Deense rooiwyndrinkers kan dit nie doen nie. Die mense waarmee ek simpatiseer is die witwyn-drinkers, Omdat hulle nie rooiwyn drink nie, het die navorsing by implikasie bewys dat hulle nie ‘n optimale gemeenskaps, intellektuele persoonlike omgewing het nie. Maar omdat hulle nie bier drink nie, het hulle ook nie die optimale gemeenskaps-, intellektuele en persoonlike omgewing van ‘n openbare manstoilet nie. Hulle is so-te-sê tussen die krip en die kultuur.
Miskien is die oplossing om mampoer te drink. Wat kan ‘n optimaler, gemeenskapliker, intellektueler en persoonliker omgewing skep as n goiingsak geelperskes met vrugtevlieg-steek merke wat van die grond opgetel en tot ‘n gelling 97 persent alkohol en drie persent water gegis is?
En al sal jy ná n paar doppe steeds nie gesonder, intelligenter, beter opgelei en meer suksesvol wees nie, en ook steeds nie weet hoe jy “Glædelig jul og gadt nytår” uitspreek nie, sal jy ten minste nie ‘n duiwel omgee nie.