You are currently viewing Moenie ‘n makelaar glo nie

Moenie ‘n makelaar glo nie

Moet nie ‘n makelaar glo as hy jou die pad verduidelik nie. “jy ry net hier op in Groblerstaat en op die hoek van… ek is nou nie seker nie … kry jy die patoloë se spreekkamer,” sê die groen bank se makelaar nadat ons die versekeringsvorms geteken het.

Saterdagoggend ry ons op soek na die hoek van Grobler- en ek-is-nou-nie-seker-nie-straat, maar daar is nie so ‘n hoek nie. Die derde keer in Groblerstraat op raak vroutjie befoeterd en van skone verboureerdheid draai ek sommer in die eerste straat regs, en so wragtig, hier is ‘n gebou wat lyk soos n spreekkamer! Dit is toe eintlik om die hoek. Die naambordjie is soort van op die hoek, maar klein genoeg dat jy nie sal dink hulle spog nie, maar darem ook nie so klein dat hulle besigheid verloor nie.

Die meisie by die ontvangs is netjies met blonde-bruin hare. Toe wag ons.

Elke paar minute kom ‘n ander meisie in en sê: “Suster sal nou by julle wees, hoor!”. Daar werk baie meisies in daardie plek, so jy hoor dit dikwels: “Suster sal nou by julle wees, hoor!”. Dit is seker die kursus wat hulle gee vir meisies wat by dokters wil werk. “Onthou nou klas, as jy in die ontvangslokaal instap en daar sit n verwese pasiënt, moet jy sê “Suster sal nou by julle wees hoor!”. “Onthou nou klas, moenie sê dokter sal nou by julle wees nie, want jy weet nie of dokter dalk reeds agter uitgeglip het gholfbaan toe nie.”

Ons wag nie lank nie, toe kom haal Suster ons.

En Suster is die meisie met die blonde-bruin hare. Sy het blykbaar van haarself gepraat toe sy gesê het “Suster sal nou by julle wees, hoor!”. Amper soos ‘n mens met kleuters praat.

Ek is benoud. Ek wil nie hê ‘n dom blond moet my vol gate steek omdat sy dink die blou strepies in die waai van my arm is spiere en die bleek stukke tussen-in is die are nie. Sy het darem bruinerige hare tussen die blondes en dit laat my weer moed skep.

Suster laat my ‘n toestemming teken dat sy my are mag soek, draai haar belt om my bo-arm en sê: “maak n vuis.” Net toe ek ‘n vuis maak, druk sy die naaldjie binne-in my arm in en sê “los die vuis”, Dit klink vir my bietjie besluiteloos, maar voor ek iets kan sê, sê vroutjie “voel jy snaaks?” Ek voel snaaks oor die mooi meisie so mooi met my werk maar ek dink nie dit is die regte tyd om dit te sê nie. Suster moet immers nog die naald uittrek en sy kan dalk net besluit sy wikkel hom eers bietjie in, voor sy hom uittrek.

En ek moet nog saam met vroutjie huis toe ry en ‘n stuitige opmerking kan dalk net maak dat sy die wattetjie wat suster op my seerplekkie gesit het, aftrek, en dan bloei ek my dood.

Dis darem maar ‘n lekker wêreld waarin ons leef. Daar is altyd iemand wat die risiko namens jou neem. Jy hoef nie jou eie bloed te trek nie, as jy doodgaan betaal die versekeringsmaatskappy jou huis sodat jou vrou se tweede man sonder skuld kan begin, en vir enige teëspoed wat jou tref kan jy aan iemand dink vir wie jy die skuld kan gee. Ons moet nou net iemand kry wat namens ons kan doodgaan.

Geseënde Kersfees.