Terwyl ons wag om die Desember kamp by Rustoord te gaan doen, en ons nie in Oktober kon kamp nie, het ons gou in November weggeglip vir ‘n midweek kamp op Dube.
Behalwe dat dit te vinnig verby is, was dit die verwagte “alles loop reg” Dube kamp. Oupa het wel met die karavaan aanhaak ‘n rugspier effe verrek, maar ons kon darem sonder verdere ongevalle kamp opslaan.
Dit was hond-warm, en heelwat kampeerders het in die tweede (koeler) swembad geswem.


Woensdag het Celia en Gert, soos die gebruik is, ‘n bymekaarkom vir die midweek kampeerdeers en lankstaners gereël. Celia het almal op hoogte gebring met die ontwikkelings by Dube. Weens Eskom se geploeter, gaan Dube nog meer sonpanele installeer en hulle sal uiteindelik heeltemal “off-grid” wees. Dit behoort op die langduur vir hulle ook tot voordeel te wees want die kragopwekker se diesel moet ‘n fortuin kos. Esksom doen mos nie loadshedding in die buitegebiede nie, maar load reduction. Dis nou waar ‘n gebied se krag vir lang tye afgesny word omdat die mense te veel krag trek vir die infrastruktuur. Dit gebeur gewoonlik weens die baie onwettige konneksies in die townships. As daai kragopwekker ‘n dag en ‘n nag moet loop, vreet hy seker al Gert se sakgeld op.
Celia het hulde gebring aan Gert wat volgens haar “die beste besigheidsvennoot” is (asof dit al is waarvoor hy gebruik word!).
Pensioenarisse wat besig bly
Soos altyd by ‘m midweek kamp het ons weer pensioenarisse/afgetredenes raakgeloop wat na aftrede besig bly, soos die mense wat ons op ons September kamp ontmoet het.
Hierdie keer het ons twee afgtrede vakmanne uit Witbank se wêreld ontmoet wat deur die jare vir hulle ekstra huise aangeskaf het wat hulle nou verhuur. Tussen-in kamp hulle of ry saam met die motorfietsklub die land vol.
Reg oorkant ons het Leon Naudé gestaan.
Leon is ‘n afgetrede vakman wat in Vaalpark by Sasolburg bly. Hy hou hom besig met iets waarvoor hy baie lief is, naamlik die herstel en opbou van masjinerie. Hy het nou reeds 6 trekkers opgebou. Maar omdat die ruimte skraps raak, is hy nou besig om vliegwiel (flywheel) pompe te red, te herstel en op te bou.
Hier is twee van Leon se prag resultate:

Hier is foto’s van Leon se John Deere nadat dit gesandstraal en die slytasie herwin is
Ons is aktiewe afgetredenes. As jou klein besigheid ‘n goedkoop webblad benodig, jy ‘n webblad het wat aandag nodig het, of jy iemand benodig wat vir jou artikels soos hierdie kan skryf om jou webblad se sigbaarheid te verhoog, kan ons jou op ‘n paar maniere help.
Ons volgende kamp is die eerste week in Desember by Rust Oord Bushveld Camp