Ek onthou die eerste jare van my bewussyn op die familieplaas, Oudezwaanskraal.
In die winter het die ryp gewoonlik vroeër gekom as wat almal dit wou hê en het die hoëveldgras teen einde Mei al wit in die winter-luggie gestaan.
Teen skemeraand, wanneer almal vir die nag begin regmaak het, het die vure van die plaaswerkers hulle rookpluime versigtig die lug in gestuur – lui-lui in die windlose winteraand teen die agtergrond van die oranje-rooi son in die Weste.


In die skemerdonker het die blikkerige blaf van honde deur die vroegaand-stilte gedryf, maer en alleen en gemaak braaf. By die plaasopstal kon jy die werkers se stemme hoor soos hulle van woonplek tot woonplek na mekaar roep omdat dit nie nodig was om na mekaar oor te stap nie.
Want hier was nie stadslawaai wat die stemme se dra op lawaaierige teerstrate platgedruk en stilgemaak het nie.
Daaraan het ek weer gedink toe ek vanoggend vyfuur wakker gemaak word deur die stemme van vroue wat van die taxistaanplek oor die parkie voor ons huis stap. Harde, uitbundige stemme wat hulle gesels deur die elektriese heining, by die badkamervenster in, tot op my kussing dra.
Saam met die stemme val die uitbundige lag ongenooid by my kamer in. En daar is geen kwaad of kla in die stemme nie – net die geluk van vriende wat die ryp op die gras teen hulle bene voel soos hulle werk toe stap. Vroue wat, teen die opdraande van swaarkry, op donker wintersoggende in koue, krok taxis, hulle pad vind om kos op die tafel en kinders in die skool te kan hou.
In die donker, met my arms agter my kop, het ek gelê en dink aan my kleuterjare op Oudezwaanskraal.
Hoe oupa Nico met sy kenmerkende rustige stap, effe krom, voor my en die arbeiders uit, laatmiddag in die sakkende son ingeloop het om seker te maak dat die melkkoeie se kraalhekke behoorlik toe is. En hoe ek gefassineer was deur oupa se gewoonte om sy duime oor sy wysvingers te vryf terwyl sy arms rustig langs sy sye wieg in pas met sy lang treë.
En ek het gedink aan kwaai ouma Frieda wat, ten spyte van haar beneuktheid, genoeg van die lewe geweet het om die bouers aan te sê om spesiaal in die sementvloer voor die melkstal ‘n gat in die betonblad te laat omdat ‘n klein seuntjie se Kanniedood steggie daar geplant was … “omdat dit my kleinkind se blom is”.
Ek het in my bed gelê en gedink aan Sonnie en Sabak wat al die bouwerk op Oudezwaanskraal en omstreke gedoen het, en wie se handewerk vyftig jaar later nog staan – omdat hulle trots was op hulle handewerk en omdat hulle tyd gegun was om behoorlik te werk. Sonnie wat altyd vriendelik en geduldig was met klein seuntjies, en Sabak wat ernstiger op sy werk gefokus was en minder oor kinders begaan was.
Ek het gedink aan die varkstoet wat op Pretoria se skou uitgestal het, en aan twee boeties vir wie Ma vir die okkasie spesiaal wit oorpakkies met rooi “Selecta Stoet” agterop geborduur het.
Ek het gedink aan Ander-Ouma wat brood en beskuit in haar modderoond buite die agterdeur, langs die granaatbos, gebak het.
Ek het gedink hoe dit gebeur dat ‘n groep vrolike vroue ‘n mens vyfuur in die oggend kan wakker lawaai en herinneringe van vyftig jaar gelede in jou kan los lag.
Toe ek in die oggendskemer opstaan om hierdie storie te gaan skryf sien ek oupa, effe krom, in die spieël langs my loop.