Click the British flag for an English translation of this article
Die Paradys Vlieëvanger ouers raak skril-stem ontevrede toe ons kamp opslaan op kampplek 10 by Rust Oord Bosveld Kamp.
Hulle hou niks van enige aktiwiteite naby hulle nessie en kinders nie. Dit sou egter verander toe die Neushoringvoëls Donderdag in die boom bokant ons karavaan na hulle nessie kom soek.

Rust Oord is ‘n lekker kampterrein as jy nie afhanklik is van onderdak swembaddens, supertubes en baie mense nie. Die oord het net 16 staanplekke (plus twee boskamp staanplekke), ‘n 6 meter deursnee ronde swembad wat elektries verhit word, ‘n kiosk en kroeg.
Die roete:
- Sowat 15 km anderkant Brits op die Thabazimbi-pad (R511) draai jy links af op die Wolwekraal pad na die Losperfontein gevangenis.
- Op daardie teerpad hou jy regs elke keer as die pad ‘n vurk maak vir 12,7 km tot by die T-aansluiting.
- Draai links by die T-aansluiting en presies 700m verder draai jy regs op ‘n grondpad. (Kyk mooi uit, ek het die afdraai gemis omdat ek nie oplet in die klas nie)
- Op die grondpad ry jy versigtig vir 1,8km en draai links waar die pad ‘n 90° draai na links maak.
- Rust Oord se hek is 2,3km aan op die regterkant.

Daar is ‘n duidelike bord by die hek met die nr wat jy moet bel sodat die bestuurder die hek vir jou kan oopmaak. Jy kan na die 90° draai al bel as jy nie ‘n paar minute voor die hek wil wag nie. Moenie sondermeer Google Maps volg nie, jy kan dan die moeilike slegter pad ry.
As jy hou van stilte, vrede en voëls, dan is ‘n midweek kamp op Rust Oord die antwoord.
Dit is een van die min plekke waar jy heeldag voël geluide om jou hoor. Gewoonlik vat die voëls deur die dag die pad om kos te soek en te doen wat voëls ook-al doen. Maar op Rust Oord was daar die hele dag deur voëls rondom ons kampplek en in die veld waar ons gaan stap het.
Daar is ‘n leeuplaas naby, so jy hoor byna deurentyd leeus brul. Jy kan die leeuplaas besoek as jy R1000,00 per gesin het.
Die kampplekke is mooi van mekaar geskei deur bome en ‘n stukkie oop veld, so jy kamp nie op die buurman se skoot nie.
Die veselglas swembad is nie te groot nie – so 6m in deursneë – en word elektries verhit. Dit het ‘n ruim dekvloer rondom. Die swembad se vloer is op klippe wat nie voor die tyd verwyder is nie, so jy gaan skerperige klippe onder jou voetsole voel. Die swembad is so 1,5+ meter diep. Rust Oord het ‘n kroegie met ‘n goeie verskeidenheid drinkgoed en ‘n kiosk waar jy meeste van die belangrike items kan koop. Die eiendom is elektries omhein en ons het heeltyd veilig gevoel. Daar is wi-fi by die kiosk, by kampplekke 1 – 3, en naby die swembad. Selfoon opvangs is oor die algemeen goed.
Die ablusiegeriewe is baie netjies en skoon met twee toilette, twee storte en twee wasbakke elk. Die storte was vir ons die enigste frustrasie. Die stortkoppe is teen die agtermuur (nie aan die kant nie). Dit beteken jy word nat sodra jy die stortkraan oopdraai en voor jy die hitte kan reguleer. Neem maar vir jou bulldog klampe saam want die plastiek stortgordyn waai heeltyd na buite of teen jou warm lyf vas. Dit beteken dat jy met ‘n koue stortgordyn teen jou bas moet was, of die aantrek gedeelte se vloer word ook goed nat.



Maar die storte is ruim met ‘n afsonderlike aantrek gedeelte voor en heelwat hangplek – en ‘n bankie – om jou klere en handdoeke van die nat vloer af weg te hou.
Jy moet ook gas-verwarmde water verstaan. Ons kon dit eers nie regkry deur net die warm water heelpad oop te maak sodat die gasverwarming aktiveer nie. Op Alicia se aanwysings het ons toe later die water reg laat werk. Vir my was dit bietjie irriterend dat ek met koue water moes stort elke keer as Vroutjie of kleindogter langsaan in die vroue ablusie gestort het. Ek weet nie wat daar gebeur het nie, want dit het vir my gelyk of elke ablusieblok sy eie gasstelsel het. Maar dit was hond-warm terwyl ons gekamp het, so dit was nie ‘n krisis nie.
Donderdag is daar twee Neushoringvoëls in die Vlieëvangers se boom op soek na die nessie met die Vlieëvanger kuikens in. Die Vlieëvanger ouers het dit egter vir hulle so onaangenaam gemaak met hulle histeriese geskreeu en afduik op die aanvallers, dat die Neushorings die aftog geblaas het sonder om die Vlieëvanger kuikens op te spoor.
Net daarna het die Vlieëvanger ouers die kleintjies uit die nes geboender en, onder dekking van die struikgewas, hulle verder die bosse in, buite gevaar geneem.




Ons gee laggesiggies vir:
- Vriendelike eienaars en bestuurders wat sorg dat die kiosk oop bly al is daar net een karavaan in die kamp,
- Groot kampplekke,
- Genoeg skeiding tussen kampplekke,
- Kleinwild rondom jou kamp,
- ‘n Warmwater swembad,
- Ruimte om te stap of fiets te ry,
- Dis nie ver uit Gauteng nie,
- Die laaste stukkie grondpad was gerieflik rybaar ten spyte van die reën.
Huilgesiggies vir:
- Plasiek stortgordyne wat koud aan jou bas vasklou,
- Klippe onder die swembad-vloer,
- Stortwater wat nie kan besluit of dit warm of koud wil wees nie
- Die gewel tussen die mans en vroue ablusieblokke is oop, so jy kan mooi hoor wat elkeen aan die ander kant doen. Sal maar stil probeer wees as daar baie mense is.
Sal ons weer op Rust Oord gaan kamp?
Verseker. Rust Oord is ‘n lekker plek om te kamp. Ons wag net dat die gewone mense weer werk en die skole aan die gang is, dan is dit weer tyd vir die midweek afgetredenes om te kamp. Ons sal dalk in die winter bietjie daar gaan staan.
Pingback: CARAVANS AND CAMPING - All Season Campers