Lekker op Drieberge Karavaanpark gekuier met Johan en Marietjie en die kampeerders van Kampmal se Midmal groep (midweek kampmal mense).
Kliek op enige foto om te vergroot en die “Back button” om terug te kom



Die Kampmal groep op Facebook het ontwikkel in ‘n baie lekker informele groep kamp-liefhebbers.
Wat ons geniet is dat dit nie ‘n formele klub is met die reëls van ‘n klub nie. Toe iemand vir my buurman, Louis van Kimberley, vra hoe hulle deel kan word van die klub, vra Louis vir hom, “Kamp jy hier?” Ja net daar bo, sê die kampeerder. “Wel” sê Louis “as jy hier kamp en deel wil wees van Kampmal, dan is jy reeds ‘n lid!”.
Kampmal reël die kamp-weke en beding ‘n goeie tarief, jy kan saam kamp maar is nie verplig om aan die Maandag kenmekaar of die Woensdag saambraai deel te neem nie. Ek en Marthina kamp gewoonlik alleen want ons verkies om besig te wees met ons eie dinge: ek met my rekenaar, artikels skryf en aandele, en Marthina met haar liefde, klassieke musiek op haar elektriese klavier wat ons op elke kamp saamneem. Maar ons het die deel-wees van die Midmal aktiwiteite baie geniet. Dis verseker nie die laaste keer wat ons ‘n Kampmal week sal bywoon nie.
Midmal se Drieberge kamp was gereël deur Johan en Marietjie Erwee van Modimolle.

Sluit aan by die Kamp-Mal Groep. Kliek op Events vir hulle kampe.
Ons Februarie 2021 kamp was so aan die stertkant van sikloon Eloïse.
DIT WAS NOGAL PRET!



Drieberge Karavaanpark
Drieberge lê tussen Langberg, Ouberg en Wagposberg, sowat 7km buite Brits op Van Deventerstraat verlenging net anderkant Wagpos Hoërskool.
Die Krokodilrivier vloei langs Langberg af and Drieberge se karavaan staanplekke lê aan die rivier. Sowat 40 staanplekke is rivierfront en die ander teen Ouberg se voet.
As jou groep meer as 10 woonwaens is, kan jy begin om met Drieberge te gesels oor midweek tariewe, anders sit hulle self sekere weke uit as midweek weke. Jy kan dan bespreek vir Sondag-nag tot Donderdag-nag en Vrydag oggend huiswaarts keer.
Drieberge is een van die min karavaanparke waar enige staanplek in jou smaak sal val. Die enigste kampeerders wat vir spesiale kampplekke sal moet vra is die mense wat nie onder ‘n boom wil staan nie.
Ons staan graag op staanplek 36 teen die rivier, hoewel ons nie hengel nie. Ons besoek in Februarie 2021 was midde in die groot reën wat sikloon Eloise veroorsaak het. Die sluise van Hartbeespoortdam is oopgemaak en die rivier het seker so meter na 1,5m gestyg. Dit het nie naby aan ons staanplek gekom nie, maar sommige kampeerders het nie daarvan gehou nie.
As jy koeltebome verkies aan die rivier maar so paar meter hoër wil staan, kies rondom staanplek 28.
Staanplek 1 is reg by ‘n keerwal langs ‘n stroomversnelling, wat te raserig is na sommige mense se smaak. In die algemeen geld die reël dat, hoe hoër die nommer, hoe verder van die stroomversnelling.
Watse fasiliteite het Drieberge?
- Goeie sekuriteit met twee outomatiese motorhekke en ‘n elektriese heining om die kampterrein.
- ‘n Winkeltjie waar basiese items verkoop word. Oop tot 13:00 gedurende die week;
- Een kouewater swembad;
- Een warmwaterswembad;
- Een groter warmwaterswembad onderdak;
- Twee ablusieblokke. Skoon en deurgaans skoon gehou;
- Piekniekplekke;
- Klein 1,5m diep meer waarop met kano’s geroei kan word;
- Mooi grasperke;
- Hengel;
- Tennisbaan;
- Fiets hindernisbaan wat die avontuurlustige jonges lank besig sal hou;
- Berg staproete;
- 4×4 roete.
Drieberge se kampterrein is bietjie minder as 3 km van die teerpad af.
As jy die geleentheid kry, kamp by Drieberge.
Daarna is dit op die modderpaaie na Dube.
DAREM NET 22KM VER



Dube Private Game Reserve
Op Dube kuier ons altyd lekker.
Van Drieberge af is ons reguit na Dube Game Private Game Reserve, 22km verder op kort grondpaaie en ‘n pothole teerpad van die Noordwes regering.
Daar aangekom en voor jy kon sê: “Ek loop gou ‘n draai” het ouma die lappe uit en moet die modder van die Scout afgewas word. Sy duld nie modderige karavane nie! Eish!
Dube is sterk ingestel op klubs en afgetredenes, en hulle bied deurgaans ‘n pensioenaris midweek pakket aan.
Daar is 200 staanplekke en tydens ons midweek besoeke is daar gewoonlik so 30 – 50% okkupasie. Elke kampeerder het sy voorkeure.
As jy staat maak op hulle gratis wifi, dan moet jy rondom staanplek 125 kamp. Sodoende vang jy sommer die wifi by jou kampplek op. Wifi is gratis, kry net die wagwoord by die winkel.
Ons loop al meer afgetrede kampeerders raak wat wifi wil hê. Dit loop saam met die verskynsel dat ons ook meer kampeerders kry wat aanlyn werk, danksy Covid19. Of jy van jou huis af werk of van ‘n kampterrein af, maak nie eintlik ‘n verskil nie, solank die wifi of selfoon konneksie goed is.
Mens sukkel wel met selfoon opvangs wanneer daar donderweer in die omtrek is. Dit lyk of die selfoon torings maar pieperig is as dit by donderstorms kom.
Eienaar Gert Scheepers is baie toeganklik. Sy selnommer is oral opgeplak en wanneer daar groepe afgetredenes kamp, is hy Woensdae ook byderhand wanneer Dube ‘n tee en koek bymekaarkom aanbied. (Hy eet nie eintlik baie koek nie, so ek dink hy is daar om te sien dat alles mooi loop)
Celia, wat die bymekaarkom reël, is ‘n woelige wese wat orals gelyktydig besig is en moeite doen om almal tevrede te hou.
Dube personeel is almal baie vriendelik maar tog op hul taak gefokus. Dit maak jou ervaring moeiteloos en aangenaam, en ablusiegeriewe word deurgaans skoon en droog gehou;
Wanneer jy ‘n kampplek op die kaart (wat jy van die webblad kan aflaai) soek, wees bedag daarop dat die kaart nie Noord aandui nie, nie op skaal is nie, dit nie ‘n legend of sleutel het nie, die paaie nie duidelik aangedui is nie, en die verskillende kleure jou mag verwar. Ek is nie ‘n kampioen kaartleser nie, maar die eerste keer toe ons daar gekamp het, was die kamp heel anders as die indruk wat ek van die kaart gekry het.
Gelukkig is daar midweek minder mense, so hulle ruil sonder moeite kampplekke vir jou uit. Vra net by die kantoor.
Dube se ingang is so 3km van die naaste teerpad af.
Wat bied Dube?
- ‘n Beheerde hek by die ingang op die openbare grondpad, en ‘n elektriese heining om die kampterrein;
- Goed toegeruste winkel wat wegneem etes aanbied wat jy karavaan toe kan neem of sommer by een van die tafeltjies geniet;
- Oop tot 16:00 gedurende die week;
- Gratis wifi.
- Twee ouer ablusieblokke wat opgegradeer is en waaroor daar min klagtes kan wees en een nuwe, moderne ablusieblok;
- ‘n Groot verhitte, toegeboude, onderdak swembad;
- Twee jacuzzis;
- Vier koue swembaddens;
- Vyf waterglybane;
- Catch and release hengel;
- Jungle gym, putt-putt, tafeltennis, pool tafel en twee trampoliens;
- ‘n Groot wildplaas met ‘n bergfietsroete waar jy kan ry, fietsry, draf en stap terwyl jy wild kyk;
- ‘n Kameelperdbul wat sommige oggende in die kamp sy ontbyt kom geniet.
Ons kamp graag en dikwels by Dube, veral omdat dit net 82km van ons huis af is.
Na Dube is ons vir ‘n naweek na my broer en sy vrou
OP DIE PLAAS BUITE ZEERUST
Terwyl ons op Zeerust uitgespan het, het ons ‘n draai gemaak by Wag ‘n Biekie op Marico vir ‘n lekker hamburger.




Daarna het ons ‘n draai gemaak by Die Oog van Marico. Dit is iets wat die moeite werd is om te ervaar as ‘n mens in die omgewing is.




Die Oog van Marico
Die Oog van Marico is die oorsprong van die Marico (Madikwe) Rivier. Dit sluit aan by die Krokodilrivier en saam word hulle die Limpopo rivier.
Die eienaar vertel dat die watervloei in die oog maandeliks getoets word en dat dit sonder vermindering al van 1935 af (toe die toetsing begin het) daagliks 700 000 liter water verskaf. Daar word vermoed dat die water afkomstig is van die Okavango omdat daar geen ander bronne in Suid-Afrika is wat soveeel water voorsien nie.
Die bron is 45 meter diep maar ‘n grotduiker het deur die rotse op die bodem kon kom (hy moes twee suurstof bottels op sy bors afhaal en in sy hande hou om deur te kom) en het daarna ‘n 100 meter tou ten volle gebruik en in ‘n klein ondergrondse meer beland.
Tydens ons besoek was daar duikers van klubs wat kom duik het – hul eerste duik na lockdown. Was die mense uitgelate!
Ons het R100 toegang betaal vir ek en Ouma. Daar is piekniek geriewe maar die ablusie geriewe het nie daardie week ‘n skoonmaker gesien nie.
Onthou net dat jy in Noordwes is, en dus moet jy nie baie teer tussen die slaggate verwag nie.
Ons foto’s van die Oog van Marico
Marico se Oog waar die Okavango water …
Nico Prinsloo
Marico se Oog waar die Okavango water,
klankloos onder ‘n lelie tapyt
opstoot uit die aarde.
Is die bron wat baie riviere voed.
Groot Madikwe, Klein Madikwe en die Krokodil
vat almal hande en word saamgevoeg,
om die Okavango se water in die Limpopo uit te spoeg.
Ons weet baie van die sterre
maar baie min van ons water-are.
Ons kennis van ondergrondse mere
skiet erg tekort na al die jare.
Maar van die ster en van planeet
is daar min wat ons nie weet.
Ons heeltyd op-kyk is vooruitgang
maar ons vergeet om af te kyk.
Want ons wil sien waar ons wil wees
maar waar ons is, wek min belang.
Want dit is hoe die mens is:
dat hy hunker na die onbekende,
hom min bekommer oor sy hede
en vergeet van die verlede.
Duik diep af in Marico se Oog
verby die rotse en deur onderwater skeure.
Verwonder jou aan die oorvloed wat opbruis uit die aarde.
En wanneer die gids-tou opraak en jy moet terug,
is opkyk na die sterre
minder werd as suurstof op jou rug.
Marico se Oog waar die Okavango water,
klankloos onder ‘n lelie tapyt
opstoot uit die aarde.
Duik die rubber-pajama paddamanne,
kom na bo en vertel geesdriftig,
van Madikwe se donker pupil
waar Marico se Oog spontaan,
sonder ophou,
suiwer water traan.
Na ‘n prettige naweek op die plaas by Zeerust, is ons verder
260 KM NA WELTEVREDE, PARYS
Weltevrede Country Resort and Caravan Park
Weltevrede karavaanpark lê aan die Vaalrivier.




Weltevrede is begin deur Renier en Rose Geyer en word bedryf deur Renier en twee seuns met die kleinkinders wat ook al help.
Weltevrede is goed ingerig vir groepe kampeerders, en die onderdak staanplekke sal die klub-kampeerders tevrede stel.
Dit was vir ons ‘n nuwe ervaring, maar ten spyte van ons baie vriendelike bure, Johan en Petro van Secunda, verkies ons bome bo afdakke. Ons sal volgende keer op nr 26 staan. Ons nr 14 staanplek was eenkant en goed genoeg, maar as jy nie die opkom-son teen jou karavaan se deur wil hê nie, staan op 1 – 5 waar daar bome tussen jou en die oggendson is wat lekker skaduwee gooi.
Weltevrede is ‘n netjiese familie bestuurde kampterrein. Die mense is vriendelik en behulpsaam. Die terrein is meestal gras en plaveisel bedek en die ablusiegeriewe is netjies en prakties.
Ons hou van storte wat ‘n afsonderlike afdroog en aantrek ruimte voor het, en dit was dan ook net hoe dit is in Weltevrede se storte.
Die voorste ry kampplekke (1 – 12) is op die Vaalrivier se wal en dis waar die hengelaars vermoedelik verkies om te kamp.
Weltevrede het ‘n winkeltjie met basiese benodigdhede en die kampterrein se hek word saans gesluit. Betaal ‘n R100,00 deposito sodat jy ‘n sleutel byderhand kan hê sou daar ‘n krisis opduik.
Wat bied Weltevrede?
- Redelik ver van die hoofpad en nie blootgestel nie, maar daar is nie ‘n elektriese heining om die kampterrein nie;
- Ou en nuwe ablusieblokke. Ou blok het net baddens terwyl die nuwe blok ook storte het. Tydens ons besoek het hulle gebou aan ‘n indrukwekkende nuwe ablusieblok vir ‘n nuwe kampterrein wat as die Boskamp bekend is;
- Sonverhitte buite swembad;
- Koue swembad met glybaan;
- Hengel;
- Putt-Putt baan;
- Trampolien, klimraam en sandput;
- Parys is minder as 20km ver.
Terwyl ons op Weltevrede gekamp het, het ons besoek gebring aan Parys se toerisme winkeltjies en Bon-Af Berry Farm
EN BOEPENSIE PLAASSTAL ONTDEK
Bon-Af Berry Farm
Bon-Af bessieplaas is nogal die moeite werd om te besoek.
Dit is 18 km van Parys af en 900 m van die N1 op die hoek van die R59 en die Barrage-pad.
Bon-Af is ‘n bessieplaas waar jy R50,00 betaal en pluk en eet soveel jy wil. As jy bessies wil saamneem, betaal jy per gram gebaseer op R75,00 per kg (die pryse tydens ons besoek).
Hulle kweek swartbesssies, bloubessies en frambose, het ‘n museum bo die restaurant en ‘n 1/39ste skaal graniet piramide. Die piramide is baie interessant en is eenvoudig maar getrou aan ‘n Egiptiese piramide. Die temperatuur in die tonnels wat binne die piramide kruis, is verbasend anders as die buite temperatuur.
Tydens ons besoek was die eienaar ongelukkig nie daar nie, maar sy vrou vertel dat daar sekere plekke binne die piramide is, waar bederfbare goed nie sleg word nie.
Die museum is ‘n eenvoudige Suid-Afrikaanse museum met items sover terug as uit die Groot Trek. Duidelik ‘n belangstelling wat gegroei het tot dit uiteindelik ‘n eie kamer moes kry.
Ons foto’s van Bon-Af Berry Farm
Boepensie Plaas Padstal
Oppad terug van Bon-Af, net oor die Vaalrivier brug anderkant Parys, draai die Kopjeskraal-pad links uit. Dis by hierdie uitdraai wat ouma hierdie bordjie sien en streng opdrag gee: “Draai hier af!”

Minder as ‘n kilometer verder kom ons by die plaasstal se afdraai.
Hier kuier ons lekker saam met ‘n regte, egte plaas-tannie rondom drie glase koue gemmerbier op haar voorstoep.
Sy deel haar storie oor hoe hulle weens omstandighede hul plaas verkoop het en op hierdie stukkie grond kom nesskop het. Sy het haar plaasstal, advertensieborde en al, net so oorgekarwei Parys toe.
En hier is sy reeds weer aan die bak, inlê en vrugte droog.
Ons koop gemmerbier en heel vyekonfyt. Jy kan my onder ‘n wip vang met heel vyekonfyt met ‘n smaaksel gemmer in.
Daai was nou wraggies ‘n lekker kuier by ‘n goeie mens. Een van daardie mense wat jy net ontmoet as jy stop en gesels. Alle mense het stories. Sommige het spesiale stories.
Maak tyd, stop, stap in, en vra: “Vertel my jou storie?”
Kliek op ‘n foto om te vergoot






Toe ons halfpad terug is Weltevrede toe, sê ek vir ouma: “Ons het wragtig nie eens die tannie se naam of van gevra nie!”
As jy in daardie geweste is, moenie verby ry nie. Dis jou kans om ‘n regte, egte entrepreneur te ondersteun.
Intussen het Ouma reeds twee weke in Mei 2021 bespreek by Tugela Mouth Resort.
Ons is aktiewe afgetredenes. As jou klein besigheid ‘n goedkoop webblad benodig, jy ‘n webblad het wat aandag nodig het, of jy iemand benodig wat vir jou artikels soos hierdie kan skryf om jou webblad se sigbaarheid te verhoog, kan ons jou op ‘n paar maniere help:
3 thoughts on “Oupa en Ouma se Februarie 2021 drie kampe.”
Comments are closed.