Rocky Bay

Ons kamp by Rocky Bay
Rocky Bay swembad 1/2

Ons stokperdjie op hierdie kamp (behalwe materiaal versamel vir hierdie blog) was om skulpe te versamel.
Hier is ons skulpe bladsy: Sea and Shells. (maak in nuwe venster oop)

Die skulpversamelaarsklub van Suid-Afrika se website


Rocky Bay

Sondag 23 Mei arriveer ons lank voor die amptelike inboek tyd by Rocky Bay Resorts se Rocky Bay Caravan Park.

Die mense laat ons betaal en stuur ons om te gaan kyk hoe lyk staanplek 32. Ons is tevrede en parkeer die karavaan. Maar die wind waai!

Ek en ouma kry die karavaan waterpas en pak tente uit. En toe begin ons stryd teen die elemente – in hierdie geval Element Wind. Hy waai vir ons dat ons niks opgeslaan kry nie en net toe ons besluit ons gaan nie die rallye-tent opslaan nie, draf Mara van Vandebijlpark van haar karavaan een kampplek weg, oor en kom verskaf die ekstra paar hande wat ons nodig het.

So kry ons al hangend aan pale en seile toe darem die hoof- kombuis- sitkamertent opgeslaan.

Toe gaan lê die wind.

Deur die nag slaap ons goed want die wind is skielik onskuldig en wapper alles wat kan wapper liggies en vriendelik en glad nie dreigend nie.

Maandag breek aan met ‘n pragtige en stil dagbreek.

Rocky Bay sonsopkoms

Sam the Samoosa man

Sam the samoosa man at Rocky Bay
Sam the samoosa man van Rocky Bay

Vir die laaste 21 jaar verkoop Sam die samoesas, wat hy en sy vrou maak, elke tweede dag in Rocky Bay Caravan Park. ‘n Vriendelike, geselserige man. Hy slaap in die middae, staan teen 23:00 op en begin sy samoesas voorberei, braai dit vroegoggend en loop deur die park teen 08:00.

Die bure beduie dat hulle Donderdag-aand, toe die wind ons op Karradine so nederig gewaai het, ‘n wind van 65 km per uur op Rocky Bay gehad het. (Die windspoed wissel tussen 65 en 95 km, afhangend van wie jy vra). Die Rocky Bay Caravan shop en al die buitelug winkels in Pennington, het die volgende dag glo rekord getalle tentpenne, stormtoue en storm bande verkoop.

Maandag-middag is ons rallyetent opgeslaan en alles is vasgepen onder stormbande en gebede. Maar ons weet nie hoe ons gaan vaar nie, want die weervoorspelling se 27km wind waai alreeds teen 37km.


The Red Hooded Angler

The red hooded angler
fished the sea every day.
In front of our camp site
on a rock he would stay.
A lone fisherman with a long fishing rod
spending every day battered by the wind.
Trying without success to take food home,
refusing to give the sea the pleasure of the win. 

Graham Clouston

Tuseen die reuse rotse staan ‘n man met ‘n groen hemp en wit baard en krap een na die ander mossel-skulp skoon asof hy van niks en niemand anders bewus is nie. Ek stap versigtig nader, want vissermanne hou nie altyd van nuuskierige leke wat dom vrae vra nie.

Hy kyk op. “More!” roep ek bo die geruis van die branders. “More” sê hy klankloos maar vriendelik, verdoof deur die brander gedruis.

So ontmoet ek vir Graham J Clouston, die fanatiese Bloubul ondersteuner, wat al meer as 21 jaar lank elke jaar op staanplek 18 op Rocky Bay kamp opslaan en dan sy Bloubul vlag hys. Dana Snyman het al ‘n artikel oor hom geskryf wat in Huisgenoot verskyn het oor sy fanatieke ondersteuning van die Blou Bulle.

Graham Clouston verduidelik vir ‘n nuuskierige hoe hy te werk gaan met die mossels wat hy elke maand vir ongeveer ses dae self uithaal.

Graham verduidelik dat, rondom die tydperk van donkermaan en nuwemaan, spring- en dooigety voorkom. Wanneer dit dooigety is, en laagwater laer is as gewoonlik, is daar hordes mense tussen die rotse besig om mossels uit te haal. ‘n Lisensie kos jou R79 en daarmee kan jy 30 mossels per dag per lisensiehouer uithaal.

‘n Paartjie staan onseker nader nadat ek klaar met Graham gesels het. Hulle kry moed toe ek sê, “wat ‘n vriendelike en behulpsame man!” en die vrou stap sag-voet oor die ruwe rotse om met hom te gesels.

Later gaan gesels ek met Graham en sy vrou Sannie by hul karavaan. Ek konfronteer hom met die staaltjies wat ek in die kamp van hom gehoor het. Hoe hy elke jaar sy rekenaardrukker saambring en dan lawwe ding doen, soos om “Te Koop” tekens te druk en op niksvermoedende karavaan-eienaars se karavane te plak. Hy erken dat een eienaar op ‘n keer amper met ‘n belangstellende koper in ‘n vuisgeveg beland het toe hy nie geweet het hy adverteer sy karavaan nie!

As jy ‘n koeldrankbottel met ‘n nota van iemand in Australië of elders op Rocky Bay optel, bel die nommer op die briefie. Graham vertel hy ontmoet baie ander kampeerders deur die koeldrank-bottels, met briefies in, op die strand te los waar mense dit optel, die briefies lees en dan opgewonde die nommer bel. Later stap hy dan by die mense se karavaan om en stel homself voor as die briefskrywer uit Australië!

Op ‘n ander keer was daar ‘n negentig-jarige paartjie wat nog kamp. Graham het ‘n kennisgewing gedruk wat lees: “Just married. Do not disturb between 12:00 – 14:00” en dit net voor 12 op hul karavaandeur geplak. Daar was glo groot pret toe al hul vriende onseker voor die karavaan saamdrom en hulle binne sit en wonder hoekom hulle vriende nie vandag kom kuier nie.

Sannie sê Graham was maar altyd ‘n poetsbakker, “maar deesdae word dit erger”. Toe ek by hulle kuier is hy besig om mosselskulpe skoon te skuur sodat hy dit as lepels en bakkies kan gebruik waarin hy mossels in bottersous op die rooster braai.

Graham haal mossels uit en vang vis wanneer die gety reg is. So bly hy aan die gang vir die drie maande wat hy en Sannie elke jaar by Rocky Bay kamp.

Graham en Sannie Clouston. Agter hulle is ‘n deur vol wapens van klubs en plekke waar hulle al gekamp het.

Rocky Bay is ‘n spesiale plek en karavaners wat gereeld daar kamp, wil nêrens anders staan nie.

Daar is baie lankstaan kampeerders – van ‘n week tot drie maande en langer. As jy Rocky Bay Karavaanpark op Google maps bekyk, sien jy dat dit ‘n uitsonderlike stuk grond is wat ver langs die strand strek. Dit is een van die karavaanparke wat die meeste seefront staanplekke het waarvan ek weet.

Nog Rocky Bay foto’s

Rocky Bay Suidelike deel van die karavaanpark tydens laagwater.

Rocky Bay se mans ablusie (noordelike deel)

Rocky Bay mans ablusie (suidelike deel)

‘n Winderige dag op Rocky Bay.

Ek gaan nie eens ‘n lys maak van wat op Rocky Bay lag-gesiggies en huil-gesiggies kry nie. Daar sou waarskynlik net een kolom wees. Rocky Bay was nie om dowe neute al aangewys as die nr 1 oord in Natal nie.

Daar is bykans 40 seefront staanplekke met omtrent net soveel (indien nie meer nie) wat see-uitsig het.

‘n Twee minute ontspannings-video waaarin ek net die opkoms van die son oor die see by Rocky Bay afgeneem het.

Sterkfontein Dam waar ons verby gery het oppad na ons oorslaap in die Drakensberg.

Al wat ek eintlik oor Rocky Bay kan sê, is dat ons vrek lekker gekamp het.

As wind jou nie pla nie, staan op een van die strandfront staanplekke, soos ons. As jy bietjie wil wegkom van die wind af, staan op een van die “agterste” staanplekke, maar jy mag dalk ‘n see-uitsig moet opoffer. Op die agterste staanplekke is jy nader aaan die spoorlyn waar die suikerriet treine met hul diesel lokomotiewe verbygaan. Hulle ry rustig en gebruik net die diep-stem toeter as hulle naby die spooroorgang kom (en gewoonlik net wanneer dit dag is of verkeer verwag kan word). Kamp tussen die see en die treinspoor is jou lot by die meeste Suidkus kampplekke.

By my huis vlieg die OR Tambo en Lanseria vliegtuie oor, en hulle fluit geluide is vir my lekker om te hoor en eintlik ‘n gerusstellende geluid. Dis dieselfde met die bas-stem dieseltreine van die Natalse Suidkus.

Ek sal niks sê oor die feit dat daar net diesel treine ry omdat die elektriese infrastruktuur eintlik nie meer bestaan nie. Daai is ‘n saak wat jy met die betrokke, onbekwame, minister bespreek.

Rocky Bay Caravan Park is op die regte plek, goed uitgelê, met goeie infrastruktuur wat goed bestuur word. Van die ander kampeerders het my indrukke bevestig, wat behels dat ek dink Rocky Bay se personeel is bekwaam en bestuur is baie toeganklik.

Rocky Bay is op Park Rynie, 60km van Durban af, 5km van Scottburgh af, beskik oor byna 170 kampplekke, bungalows, drie ablusieblokke, skottelgoed en wasgoed was geriewe, en twee swembaddens en ‘n saal.

Net buite die karavaanpark se hek is die bootklub, en as jy honger gestap is op die lang strand, maak ‘n draai daar en eet iets lekkers saam met jou bier. Ons het elkeen ‘n seekos mandjie geëet. R60 vir die mandjie en ons kon maar net sowel een mandjie bestel het want dit was amper te veel vir ons wat klein eters is.

Aktiwiteite rondom Rocky Bay

  • Bergfiets ry
  • Scuba duik
  • Hengel (met lisensie)
  • Mossels uithaal (met lisensie)
  • Uiteet
  • Haai hokduik (shark cage diving)
  • Branderplank ry
  • Strandloop
  • Skulpe versamel
  • Alles wat jy by enige ander kampterrein kan doen … plus die see.


Ons volgende kamp is ‘n week kamp by Dinokeng Resort

This Post Has 2 Comments

Comments are closed.