You are currently viewing Versigtig met jou swart boekie

Versigtig met jou swart boekie

As mens nie meer vandag se kind is nie en jou geheue wil nie meer al die familie se telefoonnommers reg liasseer nie, moet jy ekstra versigtig wees wanneer jy ‘n nommer in jou swart boekie opsoek.

‘n Pietersburgse tannie bel haar broer in Pretoria om te reël dat sy die naweek by hulle gaan kuier soos sy gereeld doen. Haar skoonsuster antwoord soos gewoonlik en hulle gesels oor koeitjies en kalfies. Die mense gaan Vrydagaand uiteet, maar die res van die naweek is hulle tuis, sy is baie welkom om Saterdagmiddag in te loer. Sy voel bietjie afgehaal want Pretoria is darem baie ver om net vir ‘n Saterdagmiddag daarheen te ry, Sy druk egter deur en sê sy het eintlik bedoel om vir die naweek te kom kuier. Daar is n rukkie stilte aan die anderkant en dan onsekere instemming. As sy dan vir die hele naweek wil kom, is dit maar goed.

Hoewel sy bietjie bek-af voel oor die skielike afsydigheid van die familie druk sy deur en reël haar rele totdat daar ‘n lig vir haar skoonsuster opgaan. “Weet jy met wie jy nou praat,” vra skoonsuster. “Ja, met my skoonsuster.” “Nee, jy praat nou met jou buurvrou.”

Dit gaan darem met haar beter as met Lady Margaret Thatcher, eertydse Britse Eerste Minister en Ystervrou toe sy nog in lewe was. Haar dogter het in n onderhoud met n koerant gesê haar ma moet begin stilbly en inmeng in die Britse Konserwatiewe Party se leierskapstryd (op daardie stadium) nie. 

Dogter Carol Thatcher sê “of jy nou ‘n oud-politikus of ‘n gewese eggenoot is, daar kom ‘n tyd wat jy moet sê ek het my kans gehad, ek bly stil. Dit is my raad as haar dogter”. Soos Carol sê, haar ma het haar kans in die vorige eeu gehad! As ek oor dertig jaar ook in my sewentigs is en aanhou foeter om iets te sê, moet my kinders my nie stilmaak nie en hulle moet my ook nie kwalik neem dat ek, soos die Ystervrou, te veel praat nie. Onthou, julle pa het ook in die vorige eeu laas kans gehad om iets te sê!

Dan is daar goeie nuus vir sjokoliste.

Navorsers aan die Universiteit yan Kaliformië het in navorsing bevind dat kakao, waarvan sjokolade gemaak word, ‘n bestanddeel bevat wat die vorming van bloedklonte teëwerk. Hulle sê ‘n klein stafie sjokolade het dieselfde gesondheidswaarde as ses appels, vier-en-‘n- half koppies tee, 28 glase wit wyn of twee glase rooiwyn.

Die navorsing is geborg deur Mars, een van die grootste lekkergoedvervaardigers ter wêreld.

Ek is amper home and dry. Ek het nou al elke dag ‘n stafie sjokolade gesluk, ses appels verorber en vier-en-‘n-half koppies tee en twee glase rooiwyn gedrink. Die hele huis lê vol appelstronke, in elke vertrek staan ‘n halwe koppie koue tee, en nadat ek ‘n draai geloop het gaan ek daai 28 glaashe witwyn pak.

Ek dink dit werk. Ek het dié week nog nie ‘n bloedklont gehad nie.