You are currently viewing Versigtig wees in Australië

Versigtig wees in Australië

‘n Mens moet versigtig wees in Australië

‘n Australiër is met A$200 beboet weens afstootlike gedrag omdat hy in ‘n Melbournse polisiestasie ‘n wind gelaat het.

Hy is op appél vrygespreek omdat daar geen bewyse was dat hy dit opsetlik gedoen het nie. Suid-Afrikaners wat dus emigreer, moet onthou: in Australië kan jy ‘n wind in die openbaar laat, solank jy dit nalatig laat.

Die Aussie se ontstelde prokureur het gesê: “Om n wind te los, is ‘n natuurlike liggaams-funksie en dit is absurd om dit ‘n misdaad te probeer maak,” Daarmee moet ‘n mens noodgedwonge saamstem. Dit kan ‘n hele nuwe dimensie aan die regspleging in die land gee as natuurlike ligaamsfunksies n misdaad gemaak word. ‘n Nies wat teen 150 km per uur by ‘n mens se neus uit trek, kan teen Tshwane se tariewe vir jou n boete van R1 500 op die hals haal as jy in ‘n 60 km sone sou nies.

Neuskrap, wat so gewild is in die nuwe SA, kan jou vir ses maande in die tronk laat beland omdat iy sonder ‘n permit delf. Hard lag – soos wanneer mans ‘n skurwe grap hoor – kan jou R500 kos weens geraasbesoedeling. Om bloot asem te haal, kan jou met die gereg laat bots weens lugbesoedeling, afhangend van watter tandepasta jy gebruik, of jy kan van poging tot moord aangekla word omdat jy ander mense se suurstof gebruik.

Mans kan groot probleme kry met vroegoggend neusblaas in die badkamer. lets soos lewenslank vir poging om ‘n aardbewing te veroorsaak. ‘n Mens kan ondergronds gedwing word as jy, elke keer wat jy agter rondkrap, aangekla word vir die doen van ‘n operasie sonder registrasie as breinchirurg.

Ek sidder om te dink wat die straf gaan wees vir iemand wat noodgedwonge ‘n lang draai in die bosse langs die pad loop. lets soos die doodstraf vir bollie-op-staatsgrond. My persoonlike afkeurenswaardige misdaad is water-afslaan-langs-die-snelweg (gewoonlik 100 meter van die naaste Ultra City af). Ek stel voor die straf is die summiere toewerk van waterwerke met naald en garing en sonder verdowing.

Aardbewing

‘n Milioen kinders in duisende skole regoor Brittanje het almal op dieselfde tyd vir n minuut op en af gespring om te sien of hulle ‘n klein aardbewing kan veroorsaak.

Die skudding sal na verwagting minder as drie op die Richterskaal registreer. Dit sal wetenskaplikes sowat twee weke neem om te bepaal of die springery genoeg energie vrygestel het om ‘n meetbare skudding te skep.

Daar is natuurlik n makliker wyse vir kinders om ‘n groot aardbewing te veroorsaak, en jy het net een Suid-Afrikaanse kind nodig, nie n miljoen Engelsmannetjies nie. Al wat ‘n kind hoef te doen, is om tydens aandete, op ‘n oomblik wat almal se aandag by die sepie is, terloops te sê: “Ek dink nie seks is so ‘n big deal nie.”