Die Lankstaan Kampers groep op Facebook is ‘n groep met amper 25 000 volgelinge (ten tyde van hierdie post). Die naam is vanselfsprekend.
Ek wou weet wat Lankstaan kampers op hul kampplekke het wat ander kampers (kortstaan en naweekkampers) nie het nie.

Soos dit maar gaan met inligting vra op Facebook, was daar antwoorde wat die vraag so bietjie gemis het, maar mense darem ‘n kans gee om hulle uit te druk. Dis maar Facebook se geaardheid. Ten tyde van die skryf van hierdie artikel, was daar reeds 83 kommentare.
Hier is ‘n goeie weergawe van al die antwoorde:
- Andre Nel wat al sy tweede jaar voltyds staan, en vroutjie Marieta, het al geleer wat hulle nodig het. Hulle het ‘n oond aangeskaf en ry ook nou ‘n TV saam.
- Naomi Lubbe wat vir 9 jaar elke jaar vir 3 maande op Tshipise gestaan het (dit maak haar ‘n swaeltjie) sweer by ‘n soliede grondseil wat sy kan vee, met ‘n net bo-oor, ‘n stofsuier en ‘n blaser. Skoonmaak is haar stokperdjie en sy doen dit wanneer ander kampers visvang of jukskei speel. Tshipise het natuurlik grond staanplekke. Oorde met gras hou nie van soliede grondseile nie want dit maak hulle gras dood. Tracey Pienaar het Naomi genooi om saam met haar te gaan kamp, want sy kan vir ure kyk hoe ander skoonmaak!
- Antoinette Martens-Beets gebruik plastiek laaikassies. Hulle karavaan is net slaapplek. Hulle gebruik ook plastiek skinkborde waarmee hulle op hul skote eet en wat sommer ook ekstra pakplek skep. Volgens die kommentare hou baie kamp-vroue van dié kassies.
- Annemarie Geldenhuys sweer by haar Air Fryer Vortex. Hulle maak wors, ontbeende lamsrib en ‘n verskeidenheid gebak waarvoor jy gewoonlik jou oond gebruik, in die air fryer.
- Fritz Frauendorf wil ‘n sterk sein hê want hy gebruik data vir Netflix, om te WhatsApp en te Facebook, nuus te lees en met die kinders, kleinkinders, vriende en ander familie in kontak te bly. Hy lees ook op sy foon of tablet want dit vat minder plek as boeke op.
- Ilze Zimmerman Burger, die Admin van Lankstaan Kampers, sê sy is so lief vir bak, sy vat haar Kenwood saam. Daan Freitag stem saam. Hy sê hulle maak maalvleis, vis, rasper grootmaat kaas, chutney, konfyt, en maak brood deeg met die voedselverwerker. Elmari du Plessis-Stegen stem saam dat ‘n voedselverwerker ‘n aanwins is, want jy kan baie dinge doen met een stuk gereedskap.
- René Beytell-Kruger kamp nie sonder haar twee stortmatjies nie. As sy uit die stort klim, wil sy op haar eie mat staan!
- Selma van Wyk vereis ordentlike stoele, ‘n ysmaker, kamp wasmasjien, Air Fryer, elektriese eierkoker en ‘n Porta-Potty.
- Johan Joubert het ‘n stewige lys gedeel: TV, laptop, Internet, 2-plaat stofie met oond, gereedskap en benodigdhede vir stokperdjies, goeie matrasse en stoele, genoeg seile om jou karavaan, tent en motor teen son te beskerm, ekstra tentpale, fittings vir pale, toue en penne en kombuisgereedskap vir bak en brou.
- Antoinette Martens-Beets gebruik ‘n Berkey waterfilter om enige water op enige plek te suiwer en veilig te maak.
- Martie Coetzee glo in haar drieplaat elektriese stofie.
- Joanie Du Plessis-Nagy gebruik ‘n plastiek elektriese urn en het altyd warm water.
- Hendrikus Erasmus kamp nie sonder ‘n stofsuier nie.
- Henriette Marais neem altyd haar gereedskap en naaldwerk masjiene saam.
- Agatha Ikking vat baie tente saam sodat sy genoeg onderdak plek het om te kamp.
- Winnie Grové kamp nie sonder haar konveksie plaat nie.
- Johan Leon Holl het ‘n hout stomp met ‘n naam wat hy gebruik om sy hout op te kap. Die stomp se naam is Blokman!
- Corrie Boer gebruik ‘n teflon braaigrid (teflon braai mat) waarop hy spek, eiers en roosterbrood op die kole maak.
Soveel kampers, soveel planne.
Soos lankstaan kampering al meer voorkom, gaan mense ook meer planne hê en meer ingerig raak.
Lankstaan kampers se behoeftes verskil van korttermyn kampers, en dit is interessant wat vir mense belangrik is. Wat ek wel agterkom is dat daar een goue reël is: “Happy wife, happy life”. Die manne maak allerhande planne om hul vroue se kampervaring so aangenaam moontlik te maak, en dis ook reg so.
Anders stop die kampery en moet jy by die huis loop sit soos ‘n ou mens!